MOSSELBAAI NUUS - Besoekers op Mosselbaai het pluimpies aan die Mosselbaai-munisipaliteit na afloop van die vakansieseisoen op sosiale media uitgedeel.
Verskeie boodskappe is versprei, 'n bevestiging dat die meeste van die vakansiegangers vol lof vir die dorp en sy omgewing is.
Vakansieganger Gerhard Janse van Rensburg het op Facebook geskryf: "Mosselbaai ek wil julle gelukwens met hoe skoon en netjies die dorp is. Ek het pas teruggekeer van my soveelste vakansie op Mosselbaai. Ek het nie een vuil publieke toilet gesien nie. Die strate is skoon en vullis word verwyder.
"Die mense op Mosselbaai is steeds die vriendelikste in die land."
Inwoner Anton Alberts het geskryf dit is voorwaar 'n plesier en voorreg om op Mosselbaai te woon.
"Ja, alles werk hier. Alle krediet aan ons raad en amptenare. Ons amptenare is puik en het beslis ingekoop op die raad se visie vir Mosselbaai."
Lounice Nel sê sy en haar gesin hou jaarliks op Mosselbaai vakansie. "Vanjaar was ons op Groot Brak en die jaar voor dit het ons by die Punt gekampeer. Ons kies elke jaar 'n ander dorp in die Mosselbaai-omgewing om ons tent op te slaan.
"Dit is een van die skoonste en lekkerste plekke om vakansie te hou. Die dienslewering is uitnemend en ons is mal oor Mosselbaai se vriendelike mense."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'