MOSSELBAAI NUUS - Die 39-jarige man wat in Januarie verlede jaar ure lank vanuit 'n plaashuis in die Brandwag-omgewing op nooddienspersoneel losgebrand het, se verhoor sou vandeesweek in Mosselbaai-streekhof begin, maar is uitgestel vir 'n moontlike pleitooreenkoms en vonnis.
Die beskuldigde, Leroi du Toit se volgende hofverskyning is op 5 April.
Die hofverrigtinge is bygewoon deur Du Toit se ouers en sy broer, wat ten tye van die skietery op Sondag, 7 Januarie 2018 ook op die plaas was. Hulle het ten tye van die skietery verlede jaar vrywillig die perseel verlaat en na veiligheid beweeg. Die gesin het vandeesweek ontspanne buitekant die hof voorgekom, maar nie met enige omstanders gesels nie.
Verskeie getuies wat in die saak moes getuig, het ook by die hof opgedaag, maar is voor die hofverrigtinge begin het verdaag toe dit bekend gemaak is dat 'n pleitooreenkoms oorweeg word.
Urelange onderhandeling
Op Sondag, 7 Januarie was Du Toit se ouers by wie hy tuisgegaan het, asook 'n broer van hom in die plaashuis toe die skietery vroegoggend begin het. Met die polisie en nooddienste se aankoms op die toneel, het Du Toit verskeie kere skote afgevuur en noodvoertuie is in die proses beskadig.
Spesialis-eenhede van die polisie insluitend onderhandelaars asook die openbare orde-eenheid is op die toneel ontplooi. Na urelange onderhandeling het Du Toit homself omstreeks 18:00 aan die polisie oorgegee.
Die polisie het ná Du Toit se inhegtenisname bevestig dat daar nege vuurwapens en 'n groot hoeveelheid ammunisie op die toneel gevind is. Du Toit is sedert sy inhegtenisname verlede jaar in aanhouding. Borgtog is nie aan hom toegeken nie, aangesien die hof aangevoer het dat Du Toit 'n gevaar vir die gemeenskap inhou en ook omdat hy nie 'n vaste adres gehad het nie.
Die saak word ondersoek deur ao A Stokes van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'