Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Suid-Afrika se polisiediens is soos ander staatsinstellings in 'n haglike toestand met voortslepende beurtkrag wat ook sy tol eis.
Die Groot-Brakrivier-polisiestasie loop dikwels deur onder kritiek van die gemeenskap en bekommerde inwoners. Die voorsitter van die Outeniqua-plaaswag, Dewald de Kock doen 'n beroep op die gemeenskap om hande te vat en die polisie te help.
Hy vertel: "Die hulpmiddels tot hul beskikking is totaal onvoldoende. Die polisievoertuie is gehawend en daar is nie genoeg mannekrag nie. Een stel gladde bande word afgehaal en aan 'n ander polisiebakkie gesit, sodat een voertuig ten minste kan uitgaan om klagtes te ondersoek. Die gebiede waar hulle moet ry, is baie keer bergagtig wat dit lewensgevaarlik maak om hul werk te doen.
"Vir amper twee weke het die polisiekantoor nie geld gehad vir diesel om die kragopwekker gedurende beurtkrag te laat werk nie. Dit beteken die polisiestasie is pikdonker in die nag en die beamptes moet met kerslig werk."
Die spoedmeter van die polisiebakkie wys die hoeveelheid kilometers wat dit reeds afgelê het. Polisielede maak die kleiner goed self reg omdat hulle nie weke sonder 'n voertuig kan gaan nie.
Gewese senior polisielede gewillig om te help
Mossel Bay Advertiser het met 'n voormalige senior offisier van die diens gesels. Hy sê dat daar 'n groot hoeveelheid oud-polisiemanne en ander veiligheidskundiges in die omgewing bly, wat graag die Groot-Brakrivier-polisie wil bystaan om hul werk te doen in watter hoedanigheid hul ookal benodig word. Volgens hom, is sigbare polisiëring 'n ernstige probleem weens die grootte van die area wat die polisiekantoor moet bedien.
"Dit is sowat 800 vierkante kilometer. Die gemeenskap kla dat die polisie ure vat om by hulle uit te kom, maar daar is net een polisie-voertuig beskikbaar. Een van ons voorstelle is om te help in die aanklagkantoor met die beëdiging van dokumente. Die take waarmee ons kan help, is legio, want daar is baie ervaring in hierdie gemeenskap."
VIDEO: Dewald de Kock, voorsitter van die Outeniqua Plaaswag in die Groot-Brakriver polisiesektor
Ondersoek van misdaad
"Die stasie het in 'n bestek van 'n paar maande twee van die speurders in die veld verloor – hulle het bedank en nuwe geleenthede aangegryp. Die werkslading van ons speurders, laat nie toe dat dossiere waar daar "speurwerk" gedoen moet word die nodige aandag kry nie. Met tot 200 dossiere per ondersoekbeampte op die tafel is dit onmoontlik.
"Volgens kundiges is die getal dossiere per ondersoekbeampte wat hanteer kan word, sowat 35. Die fokus is dus om sake op te los en 'n suksesvolle vervolging te hê en nie net om 'n dossier te sluit nie om die administratiewe druk te verlig nie."
Een van die Groot-Brakrivier-polisiebakkies wat nie meer duidelik gemerk is nie.
Periodieke hof in swak toestand
Groot Brak-polisiestasie het 'n periodieke hof wat beteken dat sake twee keer 'n week deur 'n Mosselbaaise regter by die hof aangehoor word.
"Die "hof" bring nie 'n hofordonnans saam nie wat beteken dat ervare polisie-beamptes van die Groot-Brakrivier-polisiestasie van hul take moet afstaan om vir 'n dag die hof te ondersteun. Die hof-ondersteuning wat die vervoer van verhoorafwagtenes behels, plaas verdere druk op die hoeveelheid lede om klagtes in die stasiewyk te ondersoek.
Distrikskantoor-struktuur
"Die Groot-Brakrivier-polisiestasie kry geen ondersteuning van die Da Gamaskop-polisiestasie wat in die verlede die sektorhoof was nie. Daar is 'n model op die tafel van hoe Groot Brak wel ondersteuning moet kry van Da Gamaskop maar die implimentering daarvan skiet erg tekort.
"Weens die verskillende plaaswagte se goeie verhouding met die George-polisiestasie, kry ons baie keer hulp van hulle af om die area te ondersteun. Ons doen 'n beroep op die Distrikskantoor dat die Groot-Brakrivier-stasie dadelik in die Distrikskantoor-struktuur opgeneem word om misdaadvoorkoming te verbeter."
Die dak van die polisie-voertuig is so geroes dat misdadigers met min moeite kan ontsnap.
Uitstekende tegnologie beskikbaar
Dewald de Kock, voorsitter van die Outeniqua-plaaswag, vervolg dat die Broken Window teorie hier van toepassing is.
"Dit behels dat klein goedjies aangespreek moet word voor dit hand-uit ruk. As ons 'n kultuur in die gemeenskap en by die polisiestasie kan kweek dat ons almal dieselfde fokus het, sal die groter kwessies ook verbeter.
"Die plaaswagte en buurtwagte in die Groot-Brakrivier se polisiewyk het uitstekende tegnologiese hulpmiddels soos LPR-kameras en hommeltuie, nagsig-toerusting en 'n geïntegreerde kommunikasie-netwerk met ander areas.
"Al hierdie hulpmiddels word doeltreffend gebruik met die bekamping van misdaad in die verskillende gemeenskappe. Tog word ons nie toegelaat om die polisie te help om misdaad te bekamp nie. Ons burgerlikes moet betrokke wees en saamstaan om die broken windows reg te maak."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'