Gallery
TUINROETE NUUS - Vir Fourie Ackermann gaan skilder oor genot en mooi maak. Só skilder hy Afrikawild vir President Cyril Ramaphosa, filmstelle vir internasionale lokettreffers en gewone alledaagse mense en tonele op mure wat almal gratis kan geniet.
"Ek skilder want ek wil alles mooi maak. Maar ek kan ongelukkig nie net vir charity werk nie, want dan kan ek nie die huur betaal nie."
Ackermann se jongste opdrag het hom darem genoeg in die sak gebring sodat hy vir eers saam met sy vrou Mindy op sy plaas in Friemersheim, sowat 30km van Groot-Brakrivier, kan uitspan.
Hy het sopas op bestelling twee reuse muurskilderye en agt lewensgroot skilderye vir Ramaphosa, voltooi, en toe hy daarmee klaar is, sommer dadelik weggespring aan 'n openbare portret van 'n Friemersheim inwoner, Freek - net vir die lekker en sonder betaling. Die portret pryk nou op 'n vervalle arbeidershuisie langs 'n plaaspad waar die inwoners van die gebied die wuifende karakter elke dag kan geniet.
Maar terwyl die beskeie kunstenaar met die ondeunde seunsgesig en ligteblou oë daarvan hou om andersins lelike, kaal mure gratis te verfraai, is hy darem betaal om die reuse mure van Ramaphosa se 400-sitplek konferensiesentrum op die president se wildsplaas in Limpopo in wildstonele te omskep.
In Venda beteken Ramaphosa "die olifant se slurp" en vandag kyk Ackermann se olifante, buffels, renosters, bokke en ander diere hovaardig neer op hooggeplaastes van dwarsoor die wêreld waneer hulle op Ramaphosa se plaas vergader.
Fourie en sy vrou Mindy in hulle plaashuis naby Friemersheim. Foto: Ilse Schoonraad
Ackermann geniet wat hy doen met sy hele wese - soveel so dat hy na 'n lang dag van mure inkleur, weer die kwas opneem om te ontspan. Terwyl hy op Ramaphosa se plaas besig was, het Ackermann 'n houtskoolskets van Edwin, Ramaphosa se hooftuinier gemaak. Edwin moes dit aan sy baas gewys het, want die volgende oomblik vra die prez vir 'n soortgelyke skets van sy ma en skoonma.
Ackermann is in 1960 in Hoedspruit, Mpumalanga, gebore en het van kleins af geteken. In die 80's het hy weermaguitstallings "mooigemaak" en daarna by die staatsteater in Pretoria dekor en stelle gebou. Dit was goeie dae en sommer gou het hy die big time geslaan met kontrakte op filmstelle van internasionale produksies soos Anna and the King in Maleisië en Blood Diamond in Mosambiek.
In 2001 het hy begin om muurskilderye van wildlewe te doen en sy werke by die Tannery Industriële-park in Silverton is 'n groot toeristetrekpleister. Ackermann noem dit sy "buiteluggalery", maar is só beskeie dat sy vrou, Mindy, hom 'n undercover artist noem.
Ramaphosa spog met 'n stoet Ankolebeeste uit Uganda en het selfs 'n boek uitgegee oor dié besondere beesras met hulle kenmerkende massiewe horings. Een van sy Ankolebulle het verlede jaar R640 000 op 'n veiling behaal. Ackermann het ook dié beeste met sy skilderkwas vir Ramaphosa verewig - 'n aansienlike makliker opdrag as die voorgenome portret van Ramaphosa se twee moeders. "Vrouens wil mos altyd mooi lyk! En dit is after all die president se ma en skoonma!"
Ramaphosa beteken "die olifant se slurp" in Venda en Ackermann het reg laat geskied aan die benaming.
Maar as Suid-Afrika se "Laaste Groot Hoop" mooi vra, dan kan 'n man maar 'n bietjie sweet vir volk en vaderland. Jy hou mos van mooi maak, Fourie, so laat daai kwas van jou dié keer maar 'n bietjie heuning ook smeer.
Ackermann se dogter Lia van Zyl het vir haar pa 'n facebook-profiel begin en op aandrang van Mindy sal dié undercover artist hopelik binne die volgende jaar 'n uitstalling in die Suid-Kaap hou.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'