MOSSELBAAI NUUS - 'n Camino is 'n Spaanse vertaling met verwysing na 'n "weg" of 'n "pad". Om dit nog beter te beskryf, 'n pelgrimstog, wat gestap kan word.
Gedurende Junie en Julie vroeër vanjaar, het plaaslike inwoners, Melinda en haar man, Ruben Redelinghuys (60), besluit om hulself uit te daag deur vier verskillende Camino-roetes te stap en sommer haar 60ste verjaardag te vier.
Volgens Melinda het hulle altesame 55 dae gestap en 1 620km voltooi. "Die roetes wat ons gestap het, het ingesluit van Frankryk na Spanje (Franse-roete), langs die Spaanse kus (Engelse-roete), Portugal terug na Spanje en vanaf Santiago de Compostela na Finesterre (The End of the World) in die noordweste van Spanje. Party dae was meer uitdagend as ander en daar was 'n paar gevalle waar ons oor berge met ongelyke oppervlaktes moes loop."
Hulle het tussen 25-30km per dag afgelê en asof dit nie ver genoeg was nie, moes hul na die dag se staptog, hul klere was en dan weer te voet gaan soek vir 'n supermark of restaurant om die innerlike te versterk.
Voorbereiding vir dié uitdaging het 10 maande voor die staptog met gereelde oefening begin om fiks te bly.
Sy sê dat die staproetes baie veilig is en dat dit 'n ondervinding is wat nie baie mense van weet of in hul leeftyd sal ervaar nie. Sy sê ook dat dit 'n wonderlike geestelike reis was, omdat dit so lank duur en waar mens diep na binne moet delf. Sy sê 'n mens kom ook tot die besef hoe magtig die Here is en dat jy tot enige iets in staat is as jy in Hom glo en vertrou. Sy en haar man beskryf dit as 'n onvergeetlike ervaring en sien reeds daarvoor kans om dit weer te doen!
Melinda Redelinghuys aan die einde van die Santioago De Compostela staproete.
Die Camino bied nie net 'n wonderlike geestelike reis nie, maar ook prag-natuurskoon soos hier by dié gedeelte van die Franse roete.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’