MOSSELBAAI NUUS - Philla Smith het op Saterdag, 6 November haar 95ste verjaarsdag gevier. Sy is ‘n nooi Oosthuizen van Albertinia wat ongeveer 60 jaar gelede in Mosselbaai kom woon het. Hier ontmoet sy haar man, Rassie Smith en op 40 word haar enigste dogter, Pina, gebore.
Philla woon en werk vir baie jare hier, onder andere by Boland Bank, Black’s Damesuitrusters en Claude van Niekerk Ouditeure. Haar man sterf in Desember 1985 na ‘n huwelik van 22 jaar.
Sy trek in 1991 na Riversdal waar sy vir 10 jaar woonagtig was, maar kom toe weer terug na Mosselbaai waar sy tot Januarie 2021 'n inwoner van ACVV Kenani was. Hierna gaan bly sy by haar dogter, Pina Boshoff, in Heiderand. Philla het een kleindogter.
Haar dogter sê sy is so bevoorreg om haar ma nog op so ‘n geseënde ouderdom by haar te hê. Met haar humor en verstand is niks verkeerd nie. Hulle eer die Hemelse Vader wat haar vir so lank gespaar het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'