MOSSELBAAI NUUS - Die 49-jarige vragmotorbestuurder wat op 2 Junie by Touwsrivier 70% brandwonde opgedoen het toe hy met petrolbomme aangeval is langs die N1, het nie net diep spore in die vervoerbedryf nie, maar ook in Mosselbaai getrap.
Bernard Groenewald is op Vrydag, 14 Junie in die Worcester Medi-Clinic, waar hy behandel is, oorlede.
Groenewald en sy vrou, Ciska se swaer is in die vroegoggendure aangeval toe hulle langs die pad gerus het.
Daar word berig dat die mans juis aan Touwsrivier se kant geparkeer het aangesien dit nie bekend is vir aanvalle soos ander dele langs die N1 nie.
"Wat sê mens oor so iets? Oor een onsinnige daad wat 'n mens se hele lewe in sekondes kan verander?" het Ciska vandeesweek tydens 'n telefoniese onderhoud aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Bernard is bekend aan Mosselbaaiers vir sy betrokkenheid by Pieter Vervoer, destyds sy pa se vervoeronderneming in Voorbaai. Na 'n tyd wat hy elders gewerk het, het Bernard teruggekom Mosselbaai toe. Hy en Ciska het beide vir Cobra Transport in Mosselbaai gewerk.
Dirk Nienaber, bestuurder van Cobra Transport verwys na Groenewald as 'n mensemens. "Hy was altyd behulpsaam en sou altyd mense probeer help. Hy was baie saggeaard, sou nooit iemand seergemaak het nie. Dis 'n baie slegte ding wat gebeur het."
Die Groenewalds het onlangs 'n vervoerbesigheid in die Paarl begin. Ciska Groenewald het by navraag gesê dat sy nie met die besigheid sal voortgaan nie.
"Ek gaan ook nie in die Paarl aanbly nie. Hier is te veel herinneringe."
Bernard Groenewald word vanmiddag, 21 Junie om 15:00 vanuit die NG Mosselbaai Suid-gemeente begrawe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'