TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Die planne vir die ontwikkeling van 'n perlemoenplaas sowat 10 km wes van Gouritsmond is van die baan.
Dit volg na 'n skikkingsooreenkoms op 17 Julie, danksy die volgehoue werk van verskeie plaaslike organisasies.
Die skikking is bewerkstelling deur Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.
Vleilande
Bo en behalwe die nege appèlle wat teen die ontwikkeling ingedien is, het 'n belangrike wending gekom nadat die Gourits-sambreelliggaam 'n klagte oor 'n vleiland op die plaas by waterwese, dr Roux, asook aan minister Bredell ingedien het, en 'n onafhanklike konsultant beslis het dat daar drie vleilande op die terrein bestaan. Suid-Kaap Forum het in Februarie 2019 berig dat die vleiland nie deur die aansoeker, Aqunion en sy konsultant in die aansoekdokumente vir die fabriek vermeld is nie. Dié aansoek is egter op 21 Januarie deur die Wes-Kaapse regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning goedgekeur.
Volgens Org Niewoudt, voorsitter van die Gourits-sambreelliggaam, bestaande uit vier gemeenskapsorganisasies gesteun deur die Gouriqua-bewarea, het die aanvanklike dokumente oor die die perlemoenplaas slegs na 'n vlei op die buureiendom as 'n "kunsmatige vleiland" verwys. Niewoudt sê dat die kuslyn deur 'n reeks vleilande en fonteine naby die kus gekenmerk word wat krities belangrik vir die omgewing is, soos vir otters, swarttobies ensomeer.
Aangesien die beskerming van vleilande deur spesifieke wetgewing en internasionale konvensies vereis word, moes die aansoek in heroorweging geneem word.
"Sou die ontwikkeling op die terrein voortgaan, sou twee vleilande in die slag bly," het Niewoudt verlede week in 'n onderhoud met die Mossel Bay Advertiser bevestig.
Vergunningsgebruik
In 'n brief gepubliseer deur Suid-Kaap Forum in Augustus 2019 maak Joh Groenewald van Groot Ystervarkfontein kapsie teen die Hessequa-munisipaliteit se advertensie van 'n aansoek om vergunningsgebruik van landbougrond vir 'n perlemoenplaaas. Groenewald bevraagteken in sy brief die oorweging hiervan sonder die vereiste afhandeling van 'n volledige omgewingsimpakstudie, asook die goedkeuring daarvan deur die provinsiale regering.
In hulle repliek het Hessequa-munisipaliteit gesê dat dit 'n voorgeskrewe proses ingevolge Hessequa-verordening op grondgebruikbeplanning is. Die verordening sluit die adverteer van 'n openbare kennisgewing in, waarvolgens lede van die publiek geskrewe kommentaar op die aansoek en redes daarvoor kan indien.
Aqunion het in hulle kommentaar gesê die omgewingsaansoek is reeds goedgekeur deur die department omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, maar dat verkeie appèlle teen die positiewe besluit ontvang is en dat minister Bredell versoek het dat 'n vleilandstudie voltooi moet word. Ten tye van die kommentaar was die studie se uitslag nog nie aan die publiek en owerhede beskikbaar gemaak nie. Dit is wel deur Aqunion gestel dat die minister na 'n 30 dae kommentaarperiode deur die publiek, 'n besluit sou neem.
Die grondgebruiksaansoek, het Aqunion gesê, is ingedien by Hessequa-munisipaliteit vir 'n permanente afwyking van die soneringskema.
Besware
Volgens Niewoudt is 330 besware teen die vergunningsgebruik ingedien wat baie bygedra het om te bewys hoe die gemeenskap voel. "Die vergunningsgebruik was volgens ons voortydig omdat daar 'n appèlsaak hangende was."
Niewoudt meen ook dat die geïntegreerde ontwikkelingsplan vir Gouritsmond nooit voorsiening vir 'n industriële onderneming van hierdie aard gemaak het nie. Die onderneming sou 'n wesenlike impak hê op 'n sensitiewe gebied langs die Gouriqua-natuurreservaat, terwyl 'n verdere impak op die Stilbaai-seereservaat nie uitgesluit sou wees nie.
"Natuurlike bates kan nooit vervang word nie. Geboue en infrastruktuur kan gebou en afgebreek word, maar as die natuur geskaad is, is dit feitlik onmoontlik om dit om te keer."
Verdere kommer was die volhoubaarheid van die projek, aangesien die minstens 4km van voorgestelde toegangsroete seelangs volgens 'n studie deur Royal Haskoning, 'n onafhanklike ingenieursfirma, vanweë klimaatsverandering sou wegspoel. Dié studie is in besit van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit.
"Die Gourits-sambreelligaam is nie teen akwakultuur nie en sou graag wou sien dat die projek geskuif het na 'n meer geskikte, alternatiewe area sodat werksgeleenthede geskep kon word. Ons het op die openbare publieke vergadering 'n voorstel mondelings ingedien, maar dit kon nooit realiseer nie."
Teen druktyd het Nieuwoudt gesê dat daar nog nie 'n kansellasiedokument aangaande die beplande ontwikkeling ontvang is nie. Paul Slabbert (PHS Consulting) wat by die projek betrokke was, het per e-pos gesê dat die Advertiser se navraag na die grondeienaars verwys is.
Kommentaar
By verdere navraag het Aqunion se projekbestuurder, Frik Venter die volgende kommentaar gelewer: "Die aansoek vir die ontwikkeling van 'n perlemoenplaas naby Gourits is finaal afgehandel nadat Aqunion besluit het om nie die gunstige omgewingsgoedkeuring wat aan hulle uitgereik is in Februarie 2019 uit te voer nie. Die minister is dienooreenkomstig van die besluit verwittig. Aqunion bly 'n waardevolle lid van die Gansbaai- en Hermanus-gemeenskappe, maar respekteer dat daar heeltemal te veel opposisie teen ons teenwoordigheid is as 'n langtermynlid van die Hessequa-gemeenskap. Aqunion bly egter gefokus op volhoubare groei, maar het geen planne vir enige toekomstige ontwikkelings in die Hessequa-distrik nie."
Lees verwante artikels hier:
- Minister las ondersoek
- Update: Aqunion insist there are no wetlands
- Aqunion insist there are no wetlands
- Fabriek se impak kwel inwoners
- Vleiland op terrein kan fabriek kelder
- Vleiland kan perlemoenfabriek stuit
- Gourits appeleer teen perlemoenfabriek
- Perlemoenplaas-sage duur voort
- Perlemoenplaas steeds in spervuur
- Perlemoenplaas: 'n Moontlikheid vir Gourits
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'