MOSSELBAAI NUUS - Ds. Nico Swart is na drié hartklepvervangings die man wat die Pelgrimstog van Hoop al die verste afgelê het.
Dié sowat 840 km-roete, 'n kombinasie van verskeie korter segmente, het hom ook deur dele van die groter Mosselbaai geneem.
Hy het in Jeffreysbaai begin, is deur die Baviaanskloof tot by Uniondale, toe tot by Groot-Brakrivier en by die NG Moedergemeente Mosselbaai, en van daar via die St. Blaize-staproete na Danabaai. Van hier af was dit Agulhas toe - alles binne 31 dae.
Hy het op Donderdag 30 April hierdie pelgrimstog voltooi.
Hoewel Swart eintlik 'n Pretorianer en leraar by die NG Skuilkrans-gemeente is, het hy 'n buitengewone verbintenis met Mosselbaai, buiten nou natuurlik die onlangse fisiese voetspore wat hy hier gelaat het.
Hy het jare gelede by die Mosselbaai Moedergemeente vir 'n pos aansoek gedoen, maar ds. Henry Meyer is aangestel - die einste ds. Meyer wat toe ook die nagmaal met Swart se pelgrimstogaankoms in Mosselbaai gelei het.
Mosselbaai Moedergemeente se ds. Henry Meyer lei die nagmaaldiens vir Gerrie van Deventer en ds. Nico Swart. Foto: Linzetta Calitz
Soos jy die kerk ingestap kom was daar reeds 'n roomkleur emaljestelletjie uitgepak - soutkoekies in die bord en wyn in die bekers - vir dié intieme nagmaal tussen Meyer, Swart en die afgetrede ds. Gerrie van Deventer (nou die Ligtoring Pelgrimstog se agent).
Die emaljestelletjie wat vir die nagmaal by die Moedergemeente gebruik is. Foto: Linzetta Calitz
Meyer het tydens hierdie gebruik meer oor Swart se 'gebrokenheid' gedeel, van sy hartklepvervangings tot 'n skouervervanging en die effek wat dit op 'n ware avonturier en sportman kan hê.
Sy eerste hartoperasie was in 2022, daarna nog een in 2024 en toe weer in Januarie 2025, toe hy toevallig in die Mosselbaai-omgewing met vakansie was.
Hy het 'n infeksie opgedoen en daar is vir hom gesê hy het vyf dae oor om te leef - 'n moeilike ding om jouself voor te stel as jy 'n gesonde Swart in sy stapklere in die kerkbanke van die Moedergemeente sien.
Hy was vir sowat ses weke in die Life Bay View-hospitaal. En soos die dokters aan sy liggaam te werk gegaan het, het die pelgrimstog aan sy psige herstel.
Links: ’n Pampoentjie wat ds. Nico Swart vir sy vrou, Chené, opgetel het. Regs: 'n Sonsopkoms op sy roete. Foto's: Nico Swart
"Mense stap sulke pelgrimstogte om verskillende redes. Ek is net baie dankbaar dat ek ná drie hartoperasies dit kán doen. My sport was baie belangrik vir my, veral om die Ironman te doen. Dit was 'n stuk brokenness vir my gewees, om nie meer so aktief of kompeterend sport te doen nie. Ek het dit baie geniet," vertel Swart.
Dit was veral vir hom spesiaal om in Lydensweek te begin stap. "Om terwyl ek stap te dink aan my eie gebrokenheid, my broosheid, en dat Jesus ook medelye met my het."
Hy sê sy voete was veral in daardie eerste paar dae baie seer. "Ek het Donderdagaand by 'n plek daar in die Baviaans aangekom waar die vrou wat vir my die huisvesting gegee het, vir my so 'n skottel lekker lou water met badsout gegee het.
"Daai selfde aand het Jesus sy dissipels se voete gewas. Dis my ervaring dat Jesus mý voete [in die Baviaanskloof] gewas het," sê Swart.
Behalwe dat hy oor sy eie en Jesus se gebrokenheid nagedink het, het hy ook gedurende sy staptog aan die gebrokenheid in die wêreld gedink, en daarvoor gebid, sê hy.
Mana Perold (regs) sluit buite die NG Moedergemeente by ds. Nico Swart vir die stap na die ligtoring aan. Foto: Linzetta Calitz
Blydskap, volgens hom 'n baie sterk emosie, het hom ook deurgedra. Hy sê hy het geloop en met die Here gesels en sommer hardop gesing; selfs met 'n hele nuwe melodie vir die Onse Vader vorendag gekom, lag hy.
En wanneer hy met 'n groot glimlag gestap het, was dit asof die pyn in sy voete ligter geword het.
Gerrie van Deventer oorhandig ds. Nico Swart se sertifikaat vir die voltooiing van die ligtoringgedeelte van die staptog. Foto: Linzetta Calitz
Ds. Nico Swart by sy Agulhas-eindpunt en (regs) sy pelgrimspaspoort. Foto's: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’