MOSSELBAAI NUUS - Paul Möller, 'n inwoner van Reebok wat 72 uur by die troeteldiere van die Tuinroete Dierebeskermingsvereniging (DBV) se Mosselbaai-tak spandeer en ook sy 72ste verjaarsdag tydens die geleentheid gevier het, het 'n hond genaamd Pugsly huis toe geneem.
Pugsly was een van die honde wat op aanneming wag en met wie Paul in die ysige koue 'n hondehok gedeel het.
Paul het saam met Pugsly geslaap en dit was sommer liefde met die eerste oogopslag. Hierna het Paul besluit dat Pugsly vir seker saam met hom gaan terugkeer huis toe.
Mosselbaai munisipale raadslede, Anton Dellemijn en Annatjie Janse van Rensburg het ook die geleentheid bygewoon en doen 'n beroep op die gemeenskap om hul harte en huise vir die aanneemdiere van die DBV oop te maak.
Dellemijn en Janse van Rensburg het die inisiatief ondersteun deur self daad by die woord te voeg en die fondswerwing en bewusmakingsveldtog, 'n eerste vir die Tuinroete DBV se Mosselbaai-tak, te bevorder.
Laerskool Hartenbos se Landdiensleerders het hulle vir 'n middag ook by die diere aangesluit en onder meer honde- en katkos aan die DBV geskenk.
Om 'n bydrae te maak, kontak die Mosselbaai-tak (044 693 0824).
Die DBV het teen druktyd gaan nog nie die bedrag wat tydens die geleentheid ingesamel is, bekendgemaak nie.
Mosselbaai munisipale raadslede, Anton Dellemijn en Annatjie Janse van Rensburg het meegedoen tydens die DBV-sleepathon.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'