Update
MOSSELBAAI NUUS - Pastoor Johan van Eeden (50), leraar aan die Pinkster Protestante Kerk in Heiderand, wat maar op 1 Julie sy intreepreek in dié gemeente gelewer het, word môre, 28 Julie vanuit sy vorige gemeente in Mokopane begrawe nadat hy in die vroeë oggendure verlede Saterdag voor sy huis in De Bakke doodgeskiet is. Die Da Gamaskop-polisie het vandeesweek 'n verdagte in verband met die moord op Van Eeden ondervra, maar kon nie die persoon met die voorval verbind nie.
Van Eeden het volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie omstreeks 00:41 op 21 Julie 'n stoornis buitekant sy huis in Tornynstraat gehoor en ondersoek gaan instel. Hy het sy .38-rewolwer by hom gehad. 'n Skoot is afgevuur waarna Van Eeden die huis binnegegaan het. Hy het sy 17-jarige seun, Duan, toe 'n graad 11-leerder aan Hoërskool Punt wakker gemaak en aan hom gesê dat hy geskiet is, waarna Van Eeden glo by die voordeur beswyk het. Sy vuurwapen word van die toneel vermis.
Duan, het om 03:43 Saterdagoggend met 'n facebook-inskrywing op sy pa se persoonlike facebookblad sy pa se dood bekendgemaak en asook voorbidding gevra. Van Eeden se vrou, Vicky was ten tye van die voorval nie by die huis nie, maar steeds in Mokopane, besig om die gesin se sake daar af te handel.
Van Eeden is vermoedelik Saterdagoggend deur 'n misdadiger op die toneel oorrompel. Dit word berig dat sedert die gesin slegs drie weke gelede in Mosselbaai hervestig het, daar reeds een keer by Van Eeden se voertuig ingebreek is.
Videomateriaal verkry van 'n aangrensende huis, toon dat daar een persoon op die misdaadtoneel was. 'n Getuie het die noodlottige skoot hoor afgaan en na bewering 'n persoon van die misdaadtoneel sien weghardloop.
Hegte verhouding
Pastoor Jannie Nel van Tshidakah-bedieninge, vorige leraar aan die PPK Mosselbaai was kort na die skietery verlede Saterdag op die toneel, nadat Duan hom geskakel het. Hy berig dat Duan en sy pa 'n besonder hegte verhouding gehad het.
Nel het ook vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat Van Eeden baie gelukkig was in sy vorige gemeente en nie geneë was om Mosselbaai toe te kom nie. "Johan het egter so 'n duidelike antwoord gekry dat hy hier moes wees, dat hy nie kon weier nie. Hy was 'n uitstekende prediker wat 'n gesonde Woord bedien het en was opgewonde oor wat hier in Mosselbaai moes gebeur."
Die gemeenskap en veral die Pinkster Protestante Kerk in Heiderand is geruk deur die dood van past Johan van Eeden wat op 1 Julie sy intreepreek as nuwe leraar by die gemeente gelewer het. Foto: Cornelle Carstens INLAS: Pastoor Johan van Eeden, sy vrou Vicky en seun, Duan. Hierdie foto het in Junie in die Mossel Bay Advertiser verskyn om Van Eeden se intreepreek op 1 Julie aan te kondig. Van Eeden is Saterdagoggend voor sy huis in De Bakke doodgeskiet, slegs drie weke na die gesin se aankoms in Mosselbaai. Foto: Cornelle Carstens
Arno Olivier, vise-voorsitter van die kerkraad van die PPK op Mokopane waar Van Eeden 12 jaar lank die leraar was, beaam dié aanvanklik moeilike besluit. "Dit was vir pastoor Johan 'n groot worsteling om die beroep te aanvaar, maar hy het altyd streng gewerk volgens wat die Bybel sê. Die Here se werk het eerste gekom en hy het altyd gesê dat hy bereid is om alles te verloor om die Here se werk te kan doen." Olivier sê dat die gemeentelede van die PPK op Mokopane baie geskok was toe Van Eeden die beroep aanvaar het en nou des te meer nadat hulle van sy dood verneem het.
Olivier het ook verwys na die hegte verhouding Van Eeden en Duan. "Hulle was meer pêlle as pa en seun, want pastoor Johan het hom alleen grootgemaak vandat hy net oor 'n jaar oud was. Pastoor Johan het altyd gespot dat Duan sommer so in sy snug and save langs die preekstoel gesit het van kleins af."
Duan het saam met sy stiefma, Vicky vandeesweek teruggekeer Mokopane toe. "Hulle is sak en pak met alles terug. Daar is enorme ontwrigting en koste en boonop geen versekering," berig pastoor Nel. In die lig hiervan het die hoofkantoor van die PPK Suid-Afrika ingestem dat daar 'n spesiale bankrekening geskep word om Vicky en Duan te ondersteun.
Bydraes kan inbetaal word by: PPK admin buro; ABSA. rekeningnommer 405 101 8347; verwysing: Johan van Eeden
* Die Mossel Bay Advertiser was gedurende die week verskeie kere op sosiale media in kontak met Vicky van Eeden. Sy was geneë vir 'n telefoniese onderhoud, maar teen druktyd het dit nie gerealiseer nie.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'