GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die polisie op Groot-Brakrivier waarsku inwoners om versigtig te wees vir bedrogslenters terwyl hulle kontant by banke inbetaal.
Die polisie se kommunikasiebeampte, sers Lauriane Botha, sê die nuutste modus operandi wat misdadigers volg, is om netjies aan te trek met 'n naamplaatjie aan, en dan inwoners nader wat in toue voor die bank staan om kontant te deponeer.
Hulle gee dan voor dat hulle werknemers van die bank is.
"Die verdagtes vat die slagoffers dan eenkant na 'n tafeltjie waar hulle die depositovorms vir hulle help invul, die kontant neem en dan voorgee asof hulle die kontant namens die kliënt gaan bank." Botha sê die verdagtes verdwyn dan met die geld.
Sy sê die slagoffers besef eers later dat die verdagtes nie werknemers van die betrokke banke was nie.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brak, Tuinroete nuus'