MOSSELBAAI NUUS - Hierdie tyd van die jaar, spoel baie klein karet- en selfs leerrugskilpaaie op plaaslike strande uit vanwee bepaalde seestrome.
Die skilpaaie broei uit aan die KwaZulu-Natalse kus en beweeg dan in die warm Agulhasstroom suidwaarts.
In die omgewing van die Suid-Kaap beweeg die Agulhasseestroom weer effens opwaarts en die skilpaadjies beland dan in kouer water waaraan hulle glad nie gewoond is nie.
Wanneer hulle op plaaslike strande uitspoel is hulle meestal hipotermies en baie swak. Hulle is hulle ook bedek met alge en ander organismes.
Wat om te doen wanneer 'n seeskilpad op die strand gevind word
- Kontak S.M.A.R.T. (Stranded Marine Animal Rescue Team) by 072 227 4715 of die Dias Museum (044 691 1067).
- Moenie die skilpad terugplaas in die see of in 'n houer met water nie.
- Plaas die skilpad op 'n klam lap of handdoek in 'n plastiese houer soos 'n roomysbak. Maak luggate in die deksel en hou by kamertemperatuur totdat die skilpad gehaal word.
- Moenie die skilpad probeer voer nie en hanteer so min as moontlik.
Wat met skilpaadjies gebeur
Die skilpaaie word by die Dias Museum of by die Hartenbos-dierehospitaal gehou waar hulle gestabiliseer word. Sodra hulle sterk genoeg is, word hulle na óf die Twee Oseane Akwarium in Kaapstad, of Bayworld in Port Elizabeth gestuur waar hulle gemonitor en behandel word. Hulle word dan later as 'n groep weer in die Agulhasseestroom vrygelaat.
Alle seeskilpaaie is bedreigde spesies en mag onder geen omstandighede in privaat besit aangehou word nie.
Spesiale permitte is nodig om hulle te hanteer en in Mosselbaai is dit slegs die Dias Museum en dr Frans de Graaff (Hartenbos-dierehospitaal) wat met hulle mag werk. Vrywilligers van S.M.A.R.T. beskik oor die nodige opleiding en kennis om die skilpaaie te hanteer en na een van bogenoemde fasiliteite te neem.
Indien jy gereeld op die strande beweeg, wees voorbereid daarop om 'n skilpaadjie raak te loop.
Afgesien van al die natuurlike hindernisse wat die skilpaaie in hulle vroeë stadiums moet oorkom soos voëls en ander roofdiere, word hulle gereeld deur vaartuie raakgery.
Een van die grootste oorsake dat skilpadgetalle kommerwekkend afneem, is plastiekprodukte wat in die see beland.
'n Plastieksak wat in die water dryf word maklik aangesien vir jellievis wat een van seeskilpaaie se hoofvoedselbronne is. Wanneer hulle dan hierdie sakke eet, bou gasse in hulle ingewande op wat veroorsaak dat hulle nie normaal kan eet nie.
Hulle kan dan ook nie kan afduik na hulle voedselbronne nie.
Hulle dryf op die oop see waar hulle beseer word deur skeepsverkeer.
Klein leerrugskilpaaie (leatherback) soos hierdie een, is baie skaars en hulle kans op oorlewing is baie min.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'