MOSSELBAAI NUUS - Daar sal nie waarskuwingsborde of ander padtekens by die gevaarlike afrit vanaf Louis Fourieweg na Mosselbaai se landdroshof en die naasliggende begraafplaas aangebring word nie omdat dit 'n onwettige aansluiting is.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, bevestig dat dié aansluiting volgens die provinsiale owerheid onwettig is.
Die Wes-Kaapse provinsiale regering besit en beheer Louis Fourieweg.
Die munisipaliteit beplan daarom om die afrit te sluit sodra 'n nuwe toegangsroete vanuit Sederweg na die agterkant van die hofgebou afgehandel is.
Die huidige toegang word al meer gevaarlik weens die toename in verkeer, die heersende spoedgrens van 80km/h en die dubbele ryvlak in beide rigtings wat deur slegs 'n dubbele sperstreep geskei word.
Geen goedkeuring
Die nasionale departement van openbare werke (NDPW) se woordvoerder, Bakhaliphicebo Nakedi, sê geen amptelike goedkeuring bestaan vir die huidige, 'tydelike' toegangspad nie.
"Die Mosselbaai munisipaliteit het in 1996 aan die departement toegang vanaf Sederweg na die hofgeboue verleen.
Ewe gevaarlik is die toegangspad na die munisipale vullisstortingsterrein. Heelwat minder motoriste gebruik egter hierdie afrit. Ook hier bestaan geen waarskuwingstekens nie.
"Dit is eers onlangs bevestig dat Sederweg inderdaad reeds in 1986 deur die munisipaliteit gesluit en met die eiendom van die inkopiesentrum gekonsolideer is.
"Dit is onduidelik waarom die munisipaliteit die NDPW voorsien het van 'n toegang wat geen regstatus het nie," aldus Nakedi.
Hoewel die (onwettige) toegang in die aanvanklike behoefte voorsien het toe die hofgebou aanvanklik meer as 20 jaar gelede opgerig is, het verkeer intussen op Louis Fourieweg drasties toegeneem.
Hofpersoneel en die publiek het kommer oor hul veiligheid wanneer hulle dié afrit moet gebruik, uitgespreek.
Afgeskryf
Onlangs is nóg 'n hofpersoneellid se privaatvoertuig afgeskryf toe 'n sedan dit van agter getref het.
Die personeellid se minderjarige seun is in die ongeluk beseer.
Volgens hofpersoneel vind ongelukke toenemend plaas en selfs staatsvoertuie is reeds in ongelukke beskadig.
Die toegangsroete na die Suid-Kaap Kollege word ook nie met padtekens aangedui nie. By hierdie oorgang is voetgangerverkeer 'n verdere risiko, veral omdat daar geen sypaadjies is nie en studente noodwendig op die ryvlak van Louis Fourieweg loop om by die kollege uit te kom.
"Dis al manier om by ons werksplek te kom, maar ons is al bang om die afdraai te gebruik."
Daar is geen padtekens wat waarsku dat daar 'n afdraai na óf die hofgebou, óf die begraafplaas is nie.
Op Louis Fourieweg, rigting Marshstraat, sowat 300 meter voor die afdraai na die hof is daar wel 'n padteken wat motoriste op die 80km/h spoedgrens wys.
Dit is veral motoriste wat in die rigting van Mosselbaai ry, asook dié wat vanaf die landdroskantore in die rigting van Mosselbaai by Louis Fourieweg wil aansluit, wat meen dat die aansluiting onveilig is.
Spitstye
"Veral in die oggendspitstye, wanneer hofpersoneel, lede van die polisie en korrektiewe dienste en die publiek by die hof moet aanmeld, word probleme ondervind.
"Die verkeersvloei teen 80km/h op die dubbele ryvlak, die gebrek aan waarskuwingstekens dat 'n aansluiting na regs volg en die dubbele sperstreep bring mee dat niemand verwag dat 'n voertuig na regs sal wil draai nie.
"Motoriste gebruik wel flikkerligte, maar soms word dit te laat opgemerk en vind botsings dus plaas."
Volgens die munisipaliteit het die provinsiale owerhede destyds toestemming gegee vir die gebruik van die toegangsroete, hoewel op 'n tydelike grondslag.
Aanvanklike ontwikkeling
Op die vraag of die ontwikkelingsplan vir die landdrosgebou deur die Mosselbaai-munisipaliteit goedgekeur is, sê die woordvoerder, mnr Colin Puren: "Die nasionale bouwet en regulasies bepaal dat nasionale instellings slegs vir hoflikheidsredes planne hoef in te dien.
"In die tyd wat die hofgebou opgerig is, is dié beginsel redelik streng toegepas deur die nasionale departemente en het daar skynbaar weinig samesprekings met die munisipaliteit plaasgevind.
"Daar is nou goeie samewerking vanaf staatsdepartemente rakende die indiening en goedkeuring van bouplanne, alvorens daar begin bou word."
Grafte
Dis egter nie so eenvoudig om bloot 'n ander toegang te ontwikkel nie. Dit blyk sommige van die grafte agter die hofgebou is op staatsgrond geleë.
"Die oorspronklike erfgrensheining het verdwyn, waarskynlik weens diefstal en vandalisme.
"Met die ontwikkeling van die hofgeboue is daar ‘n nuwe heining daarrondom gebou.
"Daar het egter verwarring ontstaan oor waar presies die erfgrens loop en daar is aanvaar dat die nuwe heining om die hof op die erfgrens gebou is.
"Daarom is op die area aangrensend aan die hof grafte uitgesit," aldus mnr Puren.
Daar bestaan toegangshekke - hoewel geroes - agter die hofgebou waar 'n alternatiewe toegang vir die publiek geskep kan word. Die grafte wat die pad versper kan duidelik gesien word.
"Daar is reeds in beginsel ooreengekom dat die departement van vervoer en openbare werke dié gedeelte grond aan die munisipaliteit sal oordra.
"Die munisipaliteit wag nou vir die betrokke departement vir 'n aanduiding oor die weg vorentoe. Die munisipaliteit se regdienste-afdeling werk hieraan."
Die munisipaliteit beplan om 'n nuwe aansluiting van sowat 75 meter agter die Mosselbaai Mall vanaf Sederweg te ontwikkel. Die nasionale departement van vervoer en openbare werke, wat alle staatseiendomme besit en bestuur, sal dan 'n alternatiewe parkeerarea en toegang tot die hofgebou moet vestig.
Tydsraamwerk
"Die grafte behoort nie enige impak te hê op die ontwikkeling van die toegangspad nie," sê me Nakedi.
"DPW en die munisipaliteit het onlangs verskeie vergaderings gehad om die saak op te los en die munisipaliteit het aangedui dat hulle sal begin met die konstruksie van die nuwe toegangspad vanaf Melkhoutstraat sodra die begroting goedgekeur is.
Die ongemerkte, verskuilde toegang na die Mosselbaai-landdroshof word deur talle motoriste as gevaarlik beskou. Die toegang is volgens die provinsiale owerheid onwettig, en padtekens om die publiek daaroor te waarsku, word nie oorweeg nie.
"Die DPW het met 'n proses begin om 'n begroting en koste vir die nuwe toegangspad te bekom.
"Die beoogde tydsraamwerk vir die aanvang van bouwerk aan die toegangspad sal ongeveer 12 tot 18 maande wees indien daar geen vertragings in die verkrygingsprosesse is nie."
Nóg gevaarlike toegangspaaie
Dis egter nie net die afrit na die hofgebou wat ongemerk en dus gevaarlik is nie.
Die toegange na beide die Suid-Kaap Kollege en die munisipale vullisstortingsterrein is op soortgelyke wyse problematies, hoewel die verkeersdrukte nie diesefde is nie.
Daarenteen is die afrit na 11de Laan wel goed aangedui, maar dra egter swaarder verkeer veral op spitstye.
By hierdie aansluiting vererger die wyse waarop taxi's regoor die aansluiting stop ook die veiligheidsrisiko.
Motoriste word dus versoek om Louis Fourieweg met die grootste omsigtigheid te gebruik.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'