MOSSELBAAI NUUS - As jy dalk wonder waarom Ferdinand Daniels van By Grace EMS vir jou bekend lyk, is dit omdat dié toegewyde paramedikus ook sy lyf akteur gehou het. Eers was hy net 'n ekstra wat die rol van 'n paramedikus moes speel. Maar met sy verskyning in die onlangse seisoen van Sara se Geheim, was dinge gans anders.
"Ek speel die paramedikus Ashley en ek het my eie woorde, wardrobe en make up artist gehad."
Bekendheid het egter nie in Ferdi of Spyker se klere gaan sit nie. Sy warmte en opregtheid is tasbaar.
'Plat soos 'n Minora blade'
Gebore en getoë in Groot-Brakrivier, Mullerstraat om presies te wees, het hy in sy jong dae al noodhulp langs die sportveld gedoen. Later het hy as vrywillige brandbestryder gewerk.
Hy het selfs oor naweke as daar 'n messtekery was binne sy gemeenskap, gaan uithelp met 'n oom van hom se noodhulptassie. Sy dienende geaardheid kry hy waarskynlik van sy pa, 'n oud-polisieman in die dae toe die polisiestasie nog in Tarka was. En sy liefde vir noodhulp van 'n tante wat jarelank verpleeg het.
Ferdi het 11 jaar lank in die Kaap gaan werk as paramedikus, juis, verduidelik hy om soveel moontlik te leer en te kom terugploeg in sy geboorteplek.
Toe hy in die Kaap was, het hy die aanbod gekry om saam met sy destydse hoof, 'n oudisie te doen vir die televisiereeks, Arendslvei. Sy natuurlikheid het die regisseur beïndruk en voor hy hom kon kry, was hy voor die kameras.
"Hy het vir my gesê hy kan sien ek kom van die platteland af. En het toe vir my gesê 'hou jou net so plat soos 'n Minora blade en jy sal uitskiet'," lag Ferdi.
Duidelik het hierdie woorde krag gedra, want bo en behalwe toneelspeel, bied Ferdie ook tegniese advies oor die teks en skiet van tonele waarin mediese behandeling moet plaasvind om te verseker dat dit geloofwaardig en lewensgetrou is.
Eerste liefde
Maar sy eerste liefde is om 'n paramedikus te wees. "Ek wil mense bystaan wanneer hulle beseer, in nood en in pyn is."
Dié taak neem hy so ernstig op dat een van sy pasiënte, aan wie hy besonder naby was, 'n vrou van 93, se naam op sy voorarm getatoeëer is.
Ferdi het ten doel om gemeenskappe te bemagtig deur noodhulpklasse aan te bied. Hiermee het hy reeds by Groot-Brakrivier Sekondêre Skool begin.
Dit gee hom groot plesier om te kon verneem dat die leerders wat hierby betrokke is, se skoolwerk ook dermate verbetering toon. Hy het nog 'n klomp ander planne ook, soos om leerders meer oor waterveiligheid te leer en hoe kennis van noodhulp by die see lewens kan red.
'n Sportongeluk het in 2014 bykans sy ideale vernietig. Maar soos die Afrikaanse spreekwoord lui, doodkry is min.
"Die Here het my 'n tweede kans gegee."
Vandag sê hy, is sy By Grace-uniform opnuut sy trots. "Ek wil hê mense moet kan sien waar ek vandaan kom.
"Dis nie 'n kwessie van finansies wat my tot hier gebring het nie. Sukses is die produk van wat jy insit."
Binne sy gemeenskap, ondersteun Ferdi tans 'n sopkombuis.
"Daar is baie oumense in my omgewing wat chroniese medikasie gebruik. Hulle kan dit nie neem as hulle nie kos het nie. Ek hoop dat die gemeenskap so 'n inisiatief kan ondersteun.
"Tans befonds ek en die dame wat dit begin het dit self."
Ferdi Daniels as paramedikus.
Trotser kan hy nie. Ferdi in uniform.
Ferdi se proteges - die noodhulpspan van Groot-Brakrivier Sekondêre Skool.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'