MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie het verskeie suksesse gehad wat betref die voorkoms van voortdurende rooftogte in sektor 1 van hulle bedieningsarea.
Die Mossel Bay Advertiser en Mossel Bay Home Ads News berig gereeld oor rooftogte op veral voetgangers op pad na en vanaf hulle werksplekke wat deur rowers voorgelê word. Items wat gereeld gebuit word is veral kontant en selfone.
Die gemeenskap is herhaaldelik gemaan om uiters bedag te wees wanneer hulle voetpaaie in die klofies gebruik.
Tydens gefokusde aksies in Alhofrylaan deur die polisie in samewerking met die buurtwag en bekommerde lede van die gemeenskap, is verskeie arrestasies uitgevoer om rowers wat in die area amok maak, veral in die klofie tussen Uitbreiding 8 en 13, hok te slaan.
In van die voorvalle gerapporteer, het rowers hulleself vermon in kamerjasse om op hierdie manier meer onopsigtlik misdaad te kan pleeg. Daar word ook berig dat van die verdagtes wat gereeld amok maak, van klere verwissel om hulself minder herkenbaar te maak, sou hul slagoffers hulle aan hulle klerasie kon uitken.
"Ons is baie dankbaar teenoor die gemeenskap en die buurtwag vir hulle samewerking om misdaad in die area vas te vat. Dit is belangrik om verdagtes te kan uitken, dus herinner die polisie die gemeenskap daaraan om 'n beskrywing van verdagtes te kry.
Kyk na klerasie, maar ook na enige ander liggaamskenmerke soos letsels of tattoëermerke," sê kapt Wollie Fourie.
Kaptein Fourie berig dat daar etlike rooftogte in die area rondom Alhofrylaan en die klofie was sedert Julie, maar dat die suksesvolle arrestasies in die omgewing baie goed hiermee vergelyk danksy groter sigbaarheid van die polisie en toegewyde patrollies, asook ander inisiatiewe.
"Ons is baie dankbaar. Ons stap nou met 'n smile werk toe," het 'n lid van die gemeenskap in dié woongebied berig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'