MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaaise burgemeester, Dirk Kotzé, het op Woensdag 27 Augustus die amptelike opening van die Vleistraat-projek bygewoon.
Die projek behels infrastruktuur-ontwikkeling van R10 miljoen deur die Mosselbaai-munisipaliteit, en is daarop gemik om die dorp meer toeganklik vir inwoners te maak en beweeglikheid te verbeter. Vleistraat is in Voorbaai geleë.
“Mosselbaai is tans een van die vinnigste groeiende dorpe in die land, en dit is dus van kardinale belang dat ons infrastruktuur tred hou met die tempo van ontwikkeling,” het die burgemeester op sy Facebook-blad geskryf.
Kotzé het sy dank teenoor die direkteur van infrastruktuurdienste, Dick Naidoo, en die munisipaliteit se portefeuljevoorsitter vir infrastruktuurdienste, raadslid Anton Dellemijn, vir hul ondersteuning en betrokkenheid by hierdie projek uitgespreek.
“Ons sal aanhou bou - nie net paaie nie, maar ook ’n Mosselbaai wat inklusief, volhoubaar en gereed vir die toekoms is,” het Kotzé se boodskap geëindig.
Die Vleistraat-projek in Voorbaai is amptelik op Woensdag 27 Augustus geopen. Foto: Facebook/Mayor Dirk Kotzé
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’