MOSSELBAAI NUUS - Gedurende haar diensjaar vir Christus het die droom om te skryf in haar hart begin blom, vertel Yolandi Claassens, 'n finansiesklerk wat ook die afgelope paar jaar by verskillende welwillendheidsprojekte betrokke is.
Haar eerste boek, Padlangs, 'n klompie lekkerlees inspirasiestories met baie pitkos word einde van die maand bekend gestel.
Op skool al het sy baie van skryf gehou, maar toe die Here die droom in haar hart wakkermaak, het sy ingeskryf vir 'n korrespondensiekursus in joernalistiek en kreatiewe skrywerk.
"But then life happened en ek kon dit nie klaarmaak nie," vertel sy. Maar die hoop beskaam nie. 'n Ruk later, toe sy by 'n kerk in Mosselbaai inskakel, begin sy opnuut skryf vir die kerkblad, maar toe loop dit dood.
Bewus van haar skryfbegeerte, het lede van haar selgroep haar aangemoedig om aan te hou.
'Die Here voorsien altyd'
Intussen, het sy in 2011 begin met wat sy noem haar dankseggingsprojek, spesifiek gefokus op Môreson-kinderhuis in George.
"Ek begin altyd 'n projek, met niks. Daar is nooit 'n plan B nie, net 'n plan A, want die Here voorsien altyd."
Sy verduidelik dat hierdie getuienisse van God se voorsiening, onder andere tot die ontstaan van haar blog en later 'n facebookblad, Padlangs, vandag met 7 000 volgelinge gelei het, waarop sy steeds daagliks bemoedigende boodskappe plaas.
'n Vriendin, bekend met haar werk, het haar gedurig aangemoedig om dit in boekvorm die lig te laat sien.
"Ek het altyd gesê 'nee, daar's te min, dit gaan nie werk nie' en verskonings gesoek. Toe eendag nooi nog 'n ander vriendin, wat nie eens geweet van hierdie voorstel nie, my vir koffie en vertel my van dié oulike boek wat sy lees."
En só voor sy haar kon kry, sit Yolandi toe met haar eie stories in die hand, vir die eerste keer in gedrukte formaat, danksy die vriendin se inisiatief om 10 kopieë daarvan in boekvorm aan haar te skenk. Nou, met nuwe selfvertroue, het sy besluit om 'n uitgewer te nader.
"Die wagperiode was senutergend, maar alles was haarfyn volgens God se plan."
'Loop padlangs'
Die naam Padlangs sê sy, het nie baie dinkwerk geverg nie.
"Dit was net daar, want die stories is deel van my journey. Dis my roete. En ek glo as jy padlangs loop, sal jy nie afdwaal nie."
Die net meer as 40 stories, vertel sy, is in gemaklike taal geskryf en die boodskap duidelik.
"Ek skryf vanuit 'n hartsperspektief en wil hê dat die leser telkens God aan die einde van elk storie moet sien."
Sy't baie geleer sê sy met die skryf van haar boek. "Nooit weer sal ek enige boek ligtelik hanteer nie. Dit was ure, nagte om se werk."
Die grootste uitdaging vir haar was om 'n gesonde balans tussen haar voltydse werk, die skryfwerk en boek, liefdadigheidswerk, familieverpligtinge en sosiale verhoudings te handhaaf.
Yolandi Claassens stel na baie jare se droom en nagte om se werk aan die einde van die maand haar boek, Padlangs, bekend. Foto: Cornelle Carstens
Maar, voeg sy gou by, die tweede boek is al halfpad, het reeds 'n titel en die stofomslag is al in die ontwerp.
Sy verwys na Padlangs as haar grootste geloofstap nog, maar iemand vir die kalklig, is sy glad nie.
Sy hoop om met die bekendstelling, soveel boeke moontlik te verkoop, aangesien R10 van verkope, netso aan Môreson geskenk word.
"As ek als voor Kersfees verkoop, kry Môreson R10 000. Dis first fruits. Daarom wil ek saai, soveel as moontlik, want dis God wat my droom bewaarheid het," sê sy blinkoog.
Padlangs, word op 21 November om 18:30 vir 19:00 bekend gestel in die Mosselbaai AGS, Da Gamastraat 36, Da Nova.
ARTIKEL EN FOTO: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'