MOSSELBAAI NUUS - Ná die dood van 'n fietsryer, Riëtte Moll, weens 'n ongeluk op die R102 naby Klein-Brakrivier, is padgebruikers uit alle oorde, om verskillende redes, hewig ontsteld.
Baie in die fietsrygemeenskap meen motoriste gaan onverantwoordelik met hul lewens om terwyl talle motoriste weer die vinger na fietsryers wys.
Die ondersoek na Moll se dood is steeds hangend. Ná die ontvangs van die nadoodse ondersoek, is die saak verander van roekelose en/of nalatige bestuur na een van strafbare manslag.
Die polisie op Groot Brak het bevestig die identiteit van die motoris wat by die voorval betrokke was, is bekend.
Volgens die polisie het die motoris nie van die toneel van die ongeluk gevlug nie.
Die Pedal Power Association (PPA), 'n nie-winsgewende organisasie (NWO), wat onder meer op die veiligheid van fietsryers fokus, sê hy volg alle ernstige of noodlottige insidente waarby fietsryers in die land betrokke is.
Dié wat deur hul kanale aangemeld word, word ook op 'n kaart op hul webblad aangedui. Moll se saak is een daarvan.
Mosselbaai paaie
'n Verteenwoordiger van die plaaslike fietsrygemeenskap, Nigo van Huyssteen, meen die paaie in die Mosselbaai-omgewing is oor die algemeen nie in 'n slegte toestand nie.
Die R102 is een van die paaie wat baie fietsryers gebruik en Van Huyssteen meen dis "nie sleg nie, en die geel streep is breed genoeg daar".
"Fietsryers moet asseblief nie buite die geelstreep ry nie. Motorbestuurders moet ook asseblief op die uitkyk wees vir fietsryers en hou die geelstreep oop vir voetgangers en fietse."
Padgebruikers aan beide kante van die argument gee te kenne dat dit onverskillige lede van beide groepe is wat ongelukke veroorsaak - as daar by die reëls gehou word, sal almal veilig wees.
Een meter wet
Liz Heydra van die PPA vertel ook meer oor die een meter wet, en sê die PPA het 'n groot rol gespeel in die aanneem van dié wet. Sy sê die Wes-Kaap is die enigste provinse waar die wet aangeneem is, hoewel die polisiëring daarvan beter kan wees.
Die wet sê die volgende:
Die bestuurder van 'n motorvoertuig wat 'n fietsryer op 'n openbare pad verbysteek, moet (a) behoorlike sorg aan die dag lê terwyl hy die fietsryer verbysteek;
(b) 'n afstand tussen die motorvoertuig en die fietsryer van minstens een meter laat; en
(c) daardie afstand van die fietsryer handhaaf tot die motor 'n veilige afstand weg is van die fietsryer.
Hoewel die NWO hom beywer vir die veiligheid van fietsryers, verskaf hy veiligheidswenke aan beide motoriste én fietsryers.
Vir motoriste sluit dit in om te onthou fietsryers is meer kwesbaar as 'n voertuig, "die fietsryer sál die verloorder wees"; om geduldig te wees; om genoeg spasie toe te laat; en om nie selfone te gebruik nie.
Vir fietsryers sluit dit in om duidelik sigbaar te wees; altyd die padreëls te gehoorsaam; nie langs mekaar te ry nie; om nie selfone te gebruik nie; en ook 'n omgee kultuur te handhaaf - "deur op te tree asof die pad jou eie persoonlike resiesbaan is en almal anders is 'n hindernis, gee alle fietsryers 'n slegte naam".
Heydra sê hulle sal met graagte na die area toe kom om 'n paar bewusmakingsinisiatiewe te doen sou die plaaslike fietsrygemeenskap hulle kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’