OUDTSHOORN NUUS - Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het polisielede in die Eden-distrik, die afgelope naweek, strategiese geïntegreerde magte in die Suid-Kaap ontplooi, om ‘n veilige omgewing te bewerkstellig.
Lede van die misdaadvoorkomingseenhede aan die Tuinroete, insluitend dié van Oudtshoorn, George, Conville en Kwanonqaba was betrokke.
Die patrollies se stop- en soekbedrywighede het op dwelm- en drankwinkels, onwettige vuurwapens, die opsporing van gesoekte verdagtes en die konfiskering van gevaarlike wapens gefokus.
Verskeie verdagtes is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van Mandrax en tik.
Drie verdagtes is ook deur lede van die George-misdaadvoorkomingseenheid, by 'n vulstasie in Nelson Mandela-boulevard, George, in verband met bedrog aangekeer.
Conville- en Eden-misdaadvoorkomingseenheid het gedurende die naweek by verskeie onwettige afsetpunte, op ‘n beduidende hoeveelheid tik-, Mandrax-tablette asook kontant beslag gelê, wat vermoedelik deur misdaad bekom is.
Lt. genl. Thembisile Patekile, provinsiale kommissaris van die Wes-Kaap, het sy lof uitgespreek vir die toewyding van die polisielede om die gemeenskappe te beveilig.
Die bestuurder van dié Quantum-bussie het probeer om vir George-polisielede weg te jaag, maar is takties genader en gedwing om te stop. Polisielede het die voertuig deursoek en op vier 25 liter houers gevul met brandstof, 'n onbekende bedrag kontant en bankkaarte afgekom. Die items én die Quantum-bussie is gekonfiskeer.
Onwettige dwelms wat by die padblokkades gekonfiskeer is.
Van die onwettige dwelms wat gewind is.
Drank wat deur polisielede tydens die padblokkades gekonfiskeer is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'