MOSSELBAAI NUUS - Charlene Flores is 'n bekende gesig by een van Mosselbaai se gunstelingrestaurante by die Punt. Maar dit is nie al waarmee sy haar besig hou nie.
Hierdie vrou het gedurende die grendeltyd haar hart oopgemaak vir die kinders van Asla Park en 'n sopkombuis op die been gebring.
Sy het intussen formeel geregistreer en staan tans bekend as die Asla Community Outreach Academy. Op Gesinsdag het sy in samewerking met twee plaaslike modelle paaseiers, paasbolletjies en koeldrank aan sowat 50 kinders in Asla Park uitgedeel.
"Dit was 'n groot voorreg om die kinders ietsie te kon gee. Soveel kinders kry nooit 'n paaseier oor Paasnaweek nie."
Charlene bedank almal wat haar ondersteun en dit moontlik maak vir haar om na die jongklomp uit te reik.
Besoek gerus haar Facebookblad, Asla Community Outreach Academy, vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak.
"Andersins, kom soek my op by Delfino's," nooi Charlene.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'