MOSSELBAAI NUUS - Die NG Mosselbaai-Suidgemeente bied hierdie naweek, 30 Maart tot 2 April, 'n blommefees met die tema, God se liefde aan, samelopend met Paasnaweek.
Die blommeskouspel is te siene in die kerksaal, hoek van 15de en 17de Laan, Mosselbaai. Die blommefees kan gedurende hierdie tydperk daagliks tussen 10:00-18:00 besigtig word.
Toegang is gratis, maar donasies is welkom.
Die fees word op Donderdag, 29 Maart om 19:00 geopen met 'n woord- en liedbediening in die kerkgebou. Hierna kan almal na die saal gaan om die uitstalling te besigtig. Die uitstalling is die handewerk van gemeentelede.
Temas wat uitgebeeld word sluit in, die skepping; Abraham, Jakob en Moses; die uittog uit die woestyn; Jesus se geboorte; die tweede vermeerdering van die brode; Jesus se kruisiging, opstanding en hemelvaart; die uitstorting van die Heilige Gees en die bruilof van die Lam.
Die gemeenskap van Mosselbaai en omgewing word hartlik uitgenooi na hierdie wonderlike geleentheid.
Een van 'n vorige jaar se praguitstallings.
Bring die familie en vriende en kom beleef 'n diepe ervaring van God se liefde uitgebeeld met blomme.
Kom kuier lekker by die teetuin, terwyl u die rustigheid van God se Liefde beleef.
Vir navrae, kontak die kerkkantoor by (044 690 3552).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'