MOSSELBAAI NUUS - Die PA het hierdie week met sy oorwinning in wyk 9 sy eerste wyk in Mosselbaai gewen.
Volgens die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) het 51,52% van die stemme aan die PA se Luhein Prins (Shorty) gegaan.
Wyk 9 was voor dié verkiesing onder DA-beheer.
In 'n verklaring voor die tussenverkiesing het die OVK gesê daar is 4 295 geregistreerde stemmers.
Na afloop van die verkiesing het die kommissie bevestig 50,18% van die stemmers het hul kruisies kom trek - gedurende die 2021 plaaslike verkiesing was dit 48,87%.
Prins het Donderdag aan Mossel Bay Advertiser gesê wat sy hart gedurende die stemproses die blyste gemaak het, is die hoeveelheid jongmense wat uitgekom het om te stem.
Voor die verkiesing het hy gesê hy is 'n sterk voorstander van dienslewering, werkskepping en veiliger woonbuurte, en dat hy daarin glo om waardigheid in elke huishouding te herstel.
"Ek is 'n trotse kandidaat van die Patriotic Alliance, gereed om met integriteit, aksie en onwrikbare toewyding aan wyk 9 te dien."
Prins het teen kandidate van die DA (Linda Brown), ANC (Roderick Damons) en 'n onafhanklike kandidaat (Bernard October) gestaan.
Volgens die OVK is die kruisies soos volg getrek:
• PA: 1 188
• DA: 897
• ANC: 179
• Onafhanklik: 42
Vorige plaaslike verkiesings in wyk 9
In vorige jare het Icosa ook sterk meegeding in dié wyk, maar was nie dié keer op die stembrief nie.
In 2021 het die DA die meerderheid gehad, gevolg deur Icosa in die tweede plek, ANC derde en die PA vierde.
In 2016 was dit ook DA eerste en Icosa en die ANC tweede en derde onderskeidelik.
Vir 2011 was die DA ook bo, met die ANC tweede en Icosa derde.
Icosa het die meerderheid in 2006 gehad met die ANC tweede en DA derde.
In 2000 was die DA eerste en die ANC tweede. Slegs een ander party, die Mosselbaai Gemeenskapsforum, was daardie jaar deel van die wyk 9-verkiesing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’