Update
MOSSELBAAI NUUS - Die drie mans van Mosselbaai wat na bewering betrokke was by 'n ernstige aanranding in George en die daaropvolgende jaagtog weg vanaf die misdaadtoneel af, het verlede Donderdag weer voor die hof op dié dorp verskyn.
Pa Lionel Kent (54) en sy twee seuns, Ivan (30) en Divan (27), of die Kent-trio soos daar na hulle verwys word, het Oudtshoorn-sakeman Jannie Venter (45) by sy ingenieursfirma, Du Rand Engineering in die George-nywerheidsgebied, aangerand en vir dood agtergelaat.
Na bewering het die mans toe ook met van Venter se voertuie op die vlug geslaan.
Die 30-jarige Ivan is na 'n wilde jaagtog in Mosselbaai deur lede van die Da Gamaskop-polisie in Marshstraat aangekeer nadat hulle op die buitebande van die Isuzu-bakkie waarmee hy gery het moes vuur om hom tot stilstand te dwing.
Lionel en Divan het klaarblyklik met 'n Toyota-bakkie van die toneel gevlug.
Tydens verlede week se hofverskyning, is die aanklagte teen die Kent-trio soos volg, gelys: Lionel en Divan word aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer en poging tot moord, terwyl Ivan aangekla is van roof met verswarende omstandighede, poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, motordiefstal en roekelose en nalatige bestuur.
Borgtog van R500 elk is toegestaan aan Lionel en Divan, terwyl Ivan steeds in aanhouding sal bly.
Al die verdagtes verskyn weer op 26 Februarie in die hof.
Lees vorige artikels:
- Pa en seuns vandag weer in hof
- Opvolg: Pa en seuns in hof na aanranding
- Pa en seuns vas vir poging tot moord
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'