Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Groep ouers wat maande lank in 'n stryd gewikkel was om hulle kinders veilig by die skool te kry, het die vierde kwartaal met verligting binnegaan. Dit, nadat gesubsidieerde vervoer skool toe eindelik deur die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) goedgekeur is.
Amptelike goedkeuring deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement, is verwelkom juis te midde Oktober, wat sedert 2005 in Suid-Afrika as Nasionale Vervoermaand bekend is.
Volgens inhoud op die nasionale regering se amptelike webblad, word daar in hierdie maand bewusmaking geskep van die belangrike rol wat vervoer in die ekonomie speel. Dit dien ook om deelname vanuit die burgerlike samelewing en sakewêreld in die hand te werk, met betrekking tot die voorsiening van veilige, meer bekostigbare, toeganklike en betroubare vervoer vir alle landsburgers.
Lang pad
Die ouers van hoërskoolleerders in Sonskynvallei, Brandwag en Ruiterbos het in April vanjaar 'n groep naamlik, Greater Brandwacht Matters gevorm, juis om kwessies soos leerdervervoer aan te spreek.
In wese het die groep reeds sy beslag gekry drie jaar gelede, met die gevolg dat leerdervervoer vanaf Sonskynvallei na Laerskool Hartenbos, suksesvol beding is.
VIDEO: Skool toe met 'n bus
Aangesien gesubsidieerde leerdervervoer uit die genoemde areas na Mosselbaaise hoërskole nie in plek is nie, is leerders aangewese op óf koshuisinwoning óf ouers, wat reeds finansieël onder druk en selfs werkloos is, moes opdok vir duur privaat vervoer. Ouers het 'n wesenlike kommer gehad dat hulle kinders vanuit 'n landelike, gesinsomgewing geforseer word en dat dit, asook die koste van vervoer 'n leerhindernis skep wat die kinders se grondwetlike regte skend.
Tydens 'n proses van deurlopende gesprekvoering, met skolebestuur asook die WKOD-kringbestuurder, is die kwessie van leerdervervoer goed deurtrap en ten spyte van etlike frustasies, het die groep onderhandeling bo kwaadwillige protes verkies.
Aan die begin van die vierde kwartaal, het Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD se provinsiale kantoor bevestig dat leerdervervoer vir Hoërskool Sao Bras (137 leerders) and Hillcrest Sekondêre Skool (9 leerders) goedgekeur is. Hammond het ook gesê dat Hoërskool Punt nie 'n aansoek om leerdervervoer gebring het nie. Danksy vreedsame onderhandeling, asook die geneentheid van 'n plaaslike vervoermaatskappy, is die Punt-leerders nou ook geholpe.
'Ubuntu'
Die ouergroep glo dat hulle sukses gerig is deur ubuntu en Christelike beginsels. Kundigheid is ook ingewin deur Equal Education wat deurentyd betrokke was.
"Ons is ook dankbaar vir die empatie wat ons wel in die WKOD-streekskantoor gevind het," sê 'n woordvoerder namens die groep.
Tydens 'n onlangse vergadering waar die amptelike dokumentasie deur ouers onderteken is nadat dit oplaas deur die betrokke skole beskikbaar gestel is, het die komiteevoorsitters ouers bedank vir hulle samewerking.
"Dit was nie 'n maklike taak om te koördineer nie, maar die ouers het ons die mandaat gegee," was Elvida Mann wat die Brandwag-groep koördineer se kommentaar.
Daphne Janes, die koördineerder in Sonskynvallei het tydens 'n vergadering genoem dat die werk ver van verby is.
"Ons werk nou al weer aan volgende jaar se uitdagings. Ons gaan nie ophou nie."
Tans benodig die saak van behoeftige kinders van Sonskynvallei wat skool toe moet stap in Brandwag, aandag.
"Aangesien daar veilige vervoer na Laerskool Hartenbos deur die WKOD verskaf word, asook `n deursigtige aansoekprosedure om kwytskelding van skoolgeld vir behoeftige ouers binne die Suid-Afrikaanse Skolewet beskikbaar is, kan hierdie leerders gehelp word."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'