TUINROETE NUUS - Sy het ingestap en uitgestap en toe die polisie gebel. Sy het niemand anders toegelaat om binne te gaan nie.
Dít vertel die eienaar van 'n koffiewinkel op Gouritsmond wat Sondag, 15 September eerste op die toneel was waar 'n 87-jarige oud-dominee, John Barnard verlede naweek in sy huis op dié stil kusdorpie vermoor is.
'n Nadoodse ondersoek op Barnard het bevestig dat hy aan 'n ernstige kopbesering beswyk het.
Die Albertinia-polisie het 'n 33-jarige man van Bietouville, 'n woonbuurt buite Gouritsmond in verband met die moord op Barnard in hegtenis geneem nadat hulle inligting uit die gemeenskap ontvang en opgevolg het. 'n Betroubare bron na aan die ondersoek het gesê dat die verdagte 'n bekentenis aan die polisie afgelê het.
Die verdagte het op Woensdag, 18 September in die hof op Riversdal verskyn. Navrae oor bewerings dat die verdagte vorige veroordelings het, is nie deur die polisie bevestig nie. Sover bekend, bly die verdagte 'n geruime tyd reeds in Bietouville en het hy 'n gesin. Die motief vir die moord word ondersoek.
Nie kom eet nie
Hanli Venter, eienaar van Koffiestories sê dat John Barnard van haar eerste en mees gereelde kliënte sedert 2015 was. Volgens 'n reëling met sy kinders, het Barnard daagliks by haar winkel kom eet.
Sy vrou het in 2014 afgesterf. Hy het alleen in sy huis, Net reg in Seesigweg gebly waar alles verlede naweek so tragies skeefgeloop het.
Jarelange kennis van Barnard en munisipale werker, Ben Baartman wat tuindienste verrig, het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hy Barnard op Saterdag, 14 September nog in die tuin sien werk het. "Ek het in 'n ander tuin gewerk toe sien ek Dominee 12:15 nog uit sy huis kom met sy grafie en sy emmertjie. Dis die laaste wat ek hom gesien het."
Venter sê dat Barnard Saterdagmiddag nog by Koffiestories midddagete geëet het. Sy was Sondag tuis en nie by haar winkel nie vanweë ongesteldheid. "My personeel het ete bedien en toegesluit, my sleutels kom aflaai en gesê oom John het nie kom eet nie." Sy het hom probeer bel en toe sy nie antwoord kry nie, na sy huis gery. Venter het by die agterdeur, wat oop was ingegaan en Barnard se liggaam op die vloer in die gang gevind.
Aktief gepreek
John Barnard, 'n predikant sedert 1965 het na sy aftrede en hervestiging op Gouritsmond in 1992, steeds Sondae in die NG Kerk op Gouritsmond gepreek. Gebore in die sendelingshuis in die destydse Rhodesië, het hy sy loopbaan ook in die sendingveld by 'n gemeente in Masvingo, Zimbabwe afgesluit.
Sy volgende preekbeurt sou op 6 Oktober wees. Barnard se buurvrou sedert die negentigerjare, Louwtjie Holsthauzen, sê dat Barnard onlangs aan haar genoem het dat hy nou wil beginne afskaal.
"Hy was 'n allemansmens en so lief vir 'n lekker eetdingetjie. Ons het altyd so oor die agterste muur gesels. Dit is vir my baie swaar dat hy so moes gaan. Hy het dit nie verdien nie."
Verjaarsdagreëlings
Tommie Barnard sê hy het Vrydagaand, 13 September die laaste keer met sy pa gepraat oor spyseniering vir sy verjaarsdagpartytjie. John Barnard sou op 19 Oktober sy 88ste verjaarsdag vier.
Die hele dorp is uitgenooi na die viering wat in die gemeenskapsaal gehou sou word. Selfs uitnodigingspamflette is uitgedeel.
"My pa het ingestem vir koek en tee, want daar sou te veel mense kom om 'n ete te bedien. Hy was baie geliefd." Tommie sê sy pa was glad nie een vir die kollig nie. Nog minder vir konflik.
Dawie van der Merwe, 'n winkeleienaar op die dorpie ken John Barnard ook sedert die negentigerjare. Hy sou tydens die verjaarsdagviering musiek maak, op Barnard self se versoek. "Oom John was die vaderfiguur van Gourits. Hy sou nie 'n vlieg seermaak nie."
'Onregverdig, absurd'
"Drie weke gelede was my pa dokter toe en toe het hy gesê ons kan maar sy 90ste verjaarsdag beplan," sê Tommie Barnard. John Barnard was blakend gesond en het nog aktief jukskei gespeel.
Hulle gevoel oor die moord op hulle pa, som die jonger broer Kobus só op. "Dis eenvoudig. Wat sou my pa gesê het? Hy sou gesê het dis onregverdig en absurd, maar dat ons nie 'n wrok mag dra nie, want ons leef volgens die Bybel."
Ben Baartman het hom sterk uitgespreek oor die moord. "Ek is nie vir dit wat gebeur het nie. Dominee was soos 'n pa vir my. Jy doen nie dit aan iemand wat soveel jare geleef het nie. Jy't mos verstand. Jy doen nie dit nie."
John Barnard laat sy twee seuns, twee dogters, 'n skoonseun en drie kleinkinders agter. 'n Dankdiens word op Saterdag, 21 September om 11:00 in die NG Kerk op Gouritsmond vir hom gehou.
Die kerk op Gouritsmond waar oud-predikant John Barnard (87) nog op 6 Oktober sy preekbeurt sou nakom. Barnard woon sedert 1992 op dié kusdorpie en is verlede naweek in sy huis vermoor.
John Barnard voor sy huis in Seesigweg in die kenmerkende 1970 groen Totyota Corona waarin hy jarelank reeds ry.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'