MOSSELBAAI NUUS - Ná 50 dink baie mense dat die lewe nou afdraende gaan, maar die res van jou is lewe is immers wat jy kies om daarvan te maak.
Die Stitches-klub in Hartenbos is deur Pinkey O'Reily in 2014 gestig.
Stitches is 'n sosiale handwerkgroep wat hul besig hou met brei- en hekelwerk en andersins heerlik saamkuier.
'n Tyd gelede het hulle tydens 'n byeenkoms koffie gedrink en gesit en skerts, toe een van hulle met 'n uitdaging na vore kom om te gaan zipline oftewel, glykabel te ry. Met die glykabel-idee op die tafel, het vyf van die sowat 18 vroue in die groep die uitdaging soos een man aanvaar.
Vat vyf
Alma Maree (65), Pinky O'Reily (59), Erena Jacobs (66) Linda van Wyk (70) en Monica Vermaak (66) het daar en dan besluit dat hulle nog nie te oud is vir dié pret nie en boonop gaan hulle dit bewys. So gesê, so gedaan.
Op Saterdag, 8 Februarie het die vyf met groot opgewondenheid by die Mosselbaai Zipline se kaartjiekantoor opgedaag om die vrywaringsvorms te teken. Nie eens knie- en heupvervangings, skoueroperasies en die gewone oumenspyne het hierdie groep se gees gedemp nie.
Met groot entoesiasme het die vyf vroue die harnaste aangetrek, of die jockstrap soos een van hulle dit noem, en vol grappies is hulle daar weg na die beginplatform.
Al vyf was verwonderd oor die gevoel van vryheid in die lug, die wonder van die natuurskoon en die gevoel van kleinheid as die see uit die lug gesien word.
'Ons briekel'
Stitches kom elke Dinsdag by Toucan in Voorbaai bymekaar, drink koffie, deel tegnieke uit en kuier lekker saam. Soos wat hulle dit kortweg noem, hulle "briekel".
"Ons is nie net 'n groepie ou tannies wat die heeldag sit en hekel of brei nie. Ons lag en lewe," het een van die lede, Alma Maree aan die Mossel Bay Advertiser vertel.
"Ons wil net wys dat jy die lewe kan geniet met krankhede en al as die regte vriendinne mekaar aanmoedig en vreugde gee, sonder om in eensaamheid te sit en brei of hekel," sê Alma. "Die groep het 'n wonderlike gees en sterk band onder mekaar. Ons is jolig en kan ook ernstig wees, selfs stout. Dis min of meer 'n beskrywing van Stitches," sê Alma.
Die boodskap van die uitdaging was dat handwerk nie net heeldag en aldag gedoen hoef te word nie, daar is pret daar buite, vir oud en jonk.
'n Groep vriendinne wat saam handwerk doen (van links) Alma Maree (65), Erena Jacobs (66), Pinky O'Reily (59), Linda van Wyk (70) en Monica Vermaak (66) net voor hulle die Mosselbaai Zipline aangevat het. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'