MOSSELBAAI NUUS - William Davy is in 1983 amptelik as die eerste brandweerhoof op Mosselbaai aangestel - op Dinsdag, 17 September, het sy geliefdes en die Mosselbaai-gemeenskap hom aan die dood afgestaan ná sy kankerstryd.
Davy sal nie net onthou word vir sy 14 jaar van getroue en toegewyde diens aan die gemeenskap nie, maar as 'n pa, oupa en eggenoot vir wie niks ooit te veel was nie.
Davy laat sy vrou Ansie, kinders Nikki en Marcel en sy vyf kleinkinders, Leahan, Kyla, Richelle, Mariaan en Hanko (Mannetjies) agter.
"Die beste pa ooit - ons eer jou en salute jou pappa. Niks was te veel vir pa nie; alles was altyd gesort," sê Nikki.
"Dankie, pappa, vir jou goedheid. Ons weet jy rus in vrede, ons Yster. Ons sien mekaar weer."
Huidige brandweerhoof en senior bestuurder vir brand-, redding- en rampbestuurdienste, Joseph Johnston, het namens die brandweer hul innige meegevoel met Davy se familie, vriende en voormalige kollegas betuig.
"Ons is dankbaar vir meneer Davy se nalatenskap by die brandweer en bevoorreg dat ons onlangs ons eer aan hom kon betoon tydens 'n besoek aan sy huis, soos versoek deur sy familie."
Een van Davy se laaste versoeke vanaf sy siekbed was om vir 'n laaste keer 'n brandweerwa te kon hoor. Dié wens is toe ook so vervul tesame met 'n besoek deur oudkollegas.
Davy se familie het die brandweer bedank vir hul onbaatsugtige daad om sy laaste wens moontlik te maak en ook dat hulle altyd daar was vir hom.
"Ons salute en eer julle."
Davy se begrafnis sal Maandag, 23 September, om 11:00 in die NG Kerk Mosselbaai-Suid gehou word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’