MOSSELBAAI NUUS - Deelnemende beplanning vorm die kern van die Mosselbaai-munisipaliteit se voornemens vir die tot standkoming van 'n gesonheidsorgdistrik in Da Nova.
Die dorp beskik oor gesondheidsorgfasiliteite wat in beide die privaat- en openbare sektor besonder hoog aangeskryf word en gevolglik vir die groter Mosselbaai 'n besondere bate is.
Dit dra ook effektief by tot 'n gesonder gemeenskap. Daarom sien die munisipaliteit ekonomiese voordeel vir die breër gemeenskap in die ontwikkeling van die voorgenome gesondheidsorgdistrik.
"Die munisipaliteit is deurlopend in gesprek met gesondheidsorgdiensverskaffers en deeglik bewus van die uitdagings wat hulle in die gesig staar. Tog meen die munisipaliteit dat gesondheidsorg 'n ekonomiese stimulus is wat indringend gesprek en beplaning noodsaak," het die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee tydens 'n werkswinkel oor die gesondheidsorgdistrik op Vrydag, 6 September gesê.
"Vergeleke met ander dorpe, presteer die Life Bay View privaat hospitaal, asook die Mosselbaai provinsiale hospitaal en verwante klinieke besonder goed. Dalk het dit tyd geword om anders te dink oor gesondheidsorgdienste en om die ekonomiese groei-potensiaal daarvan te ontgin."
Deur aan die internasionale aanvraag na voorkeur tersiëre mediese sorg te voldoen, kan dié sektor ruim bydra tot werkskepping en ekonomiese groei.
"Die nasionale gesondheidsorgversekering bied uitdagings, maar terselfdertyd ook geleenthede wat tot tasbare ekonomiese vooruitgang vir die gemeenskap kan lei," aldus adv Giliomee.
Bestaande knelpunte wat gesondheidsorgfasiliteite tans beleef, is onder meer gebrekkige parkering en soneringsvereistes vir die vestiging van nuwe spreekkamers. Die munisipaliteit het reeds ver gevorder met voorstelle om hierdie en ander probleme aan te spreek.
Uitdagings
In Kowie de Klerk van iCubedWorx se 'n analise van die gesondheidsorgprofiel van Mosselbaai, het dit geblyk dat die ouderdomsgroep 16 – 60 jaar, die werkende komponent van die gemeenskap, die grootste groei toon.
Dít, en die potensiële groei in werkskepping uit veral die Brulpadda-projek, bring mee dat die bestaande voorsiening vir beddens in beide die privaat- en openbare sektore tekort skiet.
Ondervoorsiening in aanvullende gesondheidsorgfasiliteite, onder meer buite-hospitaalsorg vir rehabilitasie en bejaardesorg, is ook 'n realiteit.
Die mediese bedryf beweeg toenemend na baie intensiewe breëband-aanlyngedrewe sorg wat bepaalde uitdagings bied vir die bedryf, asook vir die vestiging van 'n onderling-verbinde mediese gemeenskap binne die gesondheidsorgdistrik.
Die bestaande gebrek aan parkering en verbruikersvriendelike verbindingsroetes tussen mediese praktisyns en fasiliteite in Da Nova en die openbare hospitaal, verg ook innoverende denke.
Mosselbaai-munisipaliteit, in samewerking met die gesondheidsorgbedryf en fasiliteerders van iCubedWorx, prof Erwin Schwella, Kowie de Klerk, Daniel Fourie en Tarina Nel, werk tans aan verskeie intensiewe studies om uitdagings te oorbrug.
Die munisipaliteit het reeds 'n konsultant aangestel om die kwessie van parkering, maar ook ontwikkelingsvoorstelle te ondersoek en konsepvoorstelle te ontwikkel. Binnekort sal 'n status quo-verslag voorgelê kan word met ontwikkelingsvoorstelle. Vir dié doel het die munisipaliteit ook die dienste betrek van 'n stadsbeplanner, argitek, 'n verkeerspesialis en siviele ingenieurs.
Daar is vandeesweek indringend besin oor die ekonomiese voordeel vir Mosselbaai wat betref die vestiging van ‘n gekonsentreerde gesondheidsnode in die Da Nova-area.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'