MOSSELBAAI NUUS - Twee 18-jarige leerders van ‘n hoërskool op Mosselbaai wat na bewering die afgelope naweek ‘n medeleerder verkrag het terwyl hulle glo ‘n video daarvan gemaak het, het nie vandag by die skool opgedaag nie.
Die woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartment, Bronagh Hammond het die voorval bevestig en sê die bewerings is uiters kommerwekkend.
Die voorval het Saterdag by ‘n huispartytjie op die dorp plaasgevind.
Volgens die polisie het die 18-jarige slagoffer saam met ander jeugdiges by die partytjie gedrink waarna sy glo aan die slaap geraak het. Sy het wakker geword en gesien dat haar klere uitgetrek is.
'n Vriendin het haar ingelig dat daar ‘n video van die beweerde verkragting gemaak is en deur die verdagtes onder medeleerders versprei is.
Hammond sê die verdagtes is in graad 12 en die slagoffer is in graad 11. Sy sê die skool het intussen met die polisie in verbinding getree.
Hammond sê die departement sal die nodige ondersteuning aan die slagoffer bied indien dit versoek word.
Lees 'n vorige artikel: Hoërskoolseuns verkrag glo meisie (18) op video
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'