Volgens 'n ooggetuie was 'n silwerkleurige dubbelkajuitbakkie vanaf Albertinia in die rigting van Mosselbaai onderweg, toe 'n vrou in 'n CBS-geregistreerde wit Opel oor die sperstreep in die aankomende baan oorbeweeg het.
Die bakkie het na links op die padskouer oorbeweeg om 'n kop-teen-kop botsing te probeer vermy, maar die Opel het die bakkie se agterwiel getref. Hierna het die bakkie na regs oor die pad beweeg, waar dit teen 'n grondwal gebots en toe 40m gerol het. Die bakkie het uiteindelik op sy dak te lande gekom.
Die Opel het daarna kop-teen-kop met 'n aankomende Oos-Kaap-geregistreerde luukse Toyota gebots. Die Toyota het na die botsing aan die brand geslaan.
Noodwerkers was gou op die toneel en kon 'n verdere brand verhoed deur die Toyota van die wrak van die Opel weg te sleep.
Die twee mans in die dubbelkajuit het geringe beserings opgedoen, hoewel die bestuurder vir 'n nekbesering en snywonde in die Life Bay View-hospitaal behandel is.
Die oorledene het die Opel bestuur. Volgens inligting beskikbaar teen druktyd, het die vrou wat die Toyota bestuur het, geringe beserings opgedoen.
Brandbestryders, die Albertinia Polisie en ander nooddienspersoneel het hul hande vol gehad om verkeer te beheer. Sommige voertuie het op 'n grond-dienspaadjie langs die N2 by die ongeluk verbygery, terwyl ongeduldige motoriste, sodra hulle by die ongeluktoneel verby was, onverskillig ander voertuie verby gesteek het.
Die wrak van die uitgebrande Toyota is so gou as moontlik van die toneel verwyder, terwyl die ander wrakke heelwat later, teen sowat 16:30, verwyder is.
Klik hier vir 'n vorige artikel.

Nooddienswerkers was gou op die toneel, maar kon nie daarin slaag om die vroulike slagoffer uit een van die voertuie te red nie.
Foto: Dave van der Merwe
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'