Sodra met hoogwaardigheidsbekleërs van, onder meer, die Departement van Justisie op 'n datum ooreengekom kan word, waarskynlik in Oktober, sal die hof formeel geopen word.
Die hof sal van Maandae tot Vrydae sit, en die hofure sal van 09:00 tot 13:00, en 14:00 tot 16:00 wees. Die hof is agter die munisipale biblioteek geleë, en toegang kan uit Georgeweg langs die NG Moedergemeente verkry word.
Verkeersoortredings kan nou gedurende weeksdae by die hof betaal word van 08:00 tot 13:00, en 13:30 tot 15:00.
'n Aanklaer, mnr Chrisholm Noble, is reeds aangestel. Hy is 'n toegelate prokureur wat voor sy aanstelling werksaam by die Nasionale Vervolgingsgesag was. Hy is deur die munisipaliteit aangestel en is onderhewig aan munisipale diensvoorwaardes, maar sal aan die Nasionale Vervolgingsgesag verantwoording doen. Die Landdros word deur die Departement van Justisie aangestel.
Die hof is reeds op 24 Augustus, ingevolge die Wet op Landdroshowe, as 'n Periodieke Hof geproklameer en kan dienooreenkomstig sake aanhoor. Die munisipale woordvoerder, mnr Harry Hill, sê hierdie proklamering sal weens doelmatigheidsredes tot 'n addisionele hof gewysig word.
Ingevolge die Grondwet, is een van die doelwitte van 'n munisipaliteit om 'n gesonde en veilige omgewing daar te stel vir sy inwoners. Die munisipaliteit probeer die afgelope paar jaar reeds om 'n hof belas met munisipale aangeleenthede daar te stel ten einde effektiewe dienslewering aan die gemeenskap in dié verband te verseker.

Raadsheer Jim van der Merwe, Burgemeesterskomiteelid vir onder meer Regsdienste, die Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, en die Munisipale Bestuurder, dr Michele Gratz, staan hier voor die nuwe munisipale hof by die aanklaer, Chrisholm Noble, Niel Prins (Hoof: Regsdienste van die Munisipaliteit), Matthews Ntshanyana (tolk) en Riaan Pietersen (hofordonnans).