Die Mossel Bay Advertiser het Dinsdagmiddag verskeie oproepe van erg ontstelde boere in die omgewing ontvang.
"Julle moet kom kyk wat hier aangaan. Hier is vyf leeus op 'n plaas en beeste dood," het 'n anonieme boer versoek.
Verskeie bronne, wat sedertdien by die soektog betrokke was, asook die bestuurder van Gondwana, Neil Davison, kon nog nie bevestig of daar wel 'n leeu doodgeskiet is, of daar enigsins of hoe erg die ander gekwes is, en of enige leeus ongedeerd terug in die reservaat is nie.
Davison se laaste terugvoer gisteroggend was dat vier leeuwyfies wel weer in die reservaat opgemerk is, terwyl die vyfde steeds gesoek word.
"Ons kon nog nie naby genoeg kom om te bevestig of enige van die vier leeus beseer is nie. Ons vermoed die vyfde is dood. Jaghonde is ingespan om haar op te spoor."
Teen druktyd gister was daar nog geen uitsluitsel oor waar die leeus hulle presies bevind nie.
Moeilikheid in Brandwag
Anton Meyer van die plaas Shangani is swaar getref. Sy plaas lê teen die grensdraad van die Gondwana Privaat Wildreservaat, geleë in die Herbertsdale omgewing. Hy het vyf swaar dragtige melkbeeste weens die rondloper leeus verloor. Van die beeste is bloot doodgebyt en nie aan gevreet nie. Teen gisteroggend het hy bevestig dat nog ses beseerde beeste met byt- en krapmerke in dieselfde kamp gekry is.
"Ek was ongeveer 10:30 Dinsdagoggend op my motorfiets in die kamp teen die grensdraad waar 50 beeste loop. Ek het 'n beeskarkas gesien. Toe ek naderstap om ondersoek in te stel, was die leeuwyfie naastenby 30m ver van my af," het Anton Dinsdagmiddag op sy plaas aan die Advertiser gesê.
Aangesien hy ongewapen was, was die motorfiets sy enigste hoop op ontsnapping.
"Toe ek weghardloop na die motorfiets toe, sien ek nog vier ander leeus in dieselfde kamp, nie te ver van my af nie."
Anton het sy buurman, Cornelis Müller van Haelkraal, geskakel. Müller het glo in April vanjaar skade gely aan twee beeste as gevolg van leeus, ook van Gondwana, wat op sy plaas gemaai het. Gondwana het hom egter vir sy skade vergoed en daarom het hy besluit om nie 'n bohaai daaroor te maak nie.
Müller het Gondwana Dinsdag van die rondloper leeus verwittig en toe gewapen saam met Anton en dié se broer, Jaco, ook 'n boer in die distrik, teruggekeer na die kamp waar die leeus aangetref is.
"Ons het omtrent 45 minute gewag vir die ouens van Gondwana om op te daag en die leeus intussen dopgehou. Twee mans het hier aangekom en nie gelyk of hulle enigiets by hulle het om die situasie te beredder nie," vertel Anton.
Hy beweer dat een van die leeus gestorm het en dat hulle hierop aan die twee Gondwana-personeellede sou sê dat hulle gaan skiet. Na bewering was die antwoord, 'skiet dan as julle moet', waarop die drie boere skote op die leeus gevuur het.
Volgens Anton is een leeu doodgeskiet en twee gekwes. Die ander twee het vermoedelik weer deur die draad teruggekruip na die wildreservaat.
Kobus Crous van die plaas Bergsig buite Mosselbaai, naby Brandwag, 'n bekende helikoptervlieënier, se hulp is sedert Dinsdag ingeroep om te help soek na die leeus. Teen druktyd het hy die area verskeie kere gefynkam en tydens 'n vlug op Woensdagmiddag is 'n termiese kamera, wat hittebronnne kan opspoor, in die soektog ingespan.
Crous het gisteroggend aan die Advertiser gesê hierdie soektog het ook niks opgelewer het nie.
Die soektog word bemoeilik deur die heuwelagtige terrein met talle dig beboste klowe.
Brandwag-gemeenskap mor
"Ons en ons plaaswerkers loop meestal te voet om vee te haal," aldus Anton Meyer.
Cornelis Müller sekondeer dit in 'n telefoniese onderhoud met die Advertiser. Hy boer aan beide kante van die reservaat en vertel dat hy lankal ongerus is oor die standaard van die grensheining. Hy sê ook dat hy sy kommer al twee keer onder CapeNature se aandag gebring het.
By navraag hieroor aan CapeNature het Justin Lawrence, die skakelbeampte en woordvoerder, bevestig dat hulle wel 'n klag van 'n boer ontvang het in 2013 rakende 'n gedeelte van die grensdraad en dat dit dieselfde dag nog na Gondwana verwys is vir aandag. Gondwana het volgens Lawrence se amptelike kommentaar onderneem om aandag aan die probleem te gee.
'n Ander lid van die Brandwag-gemeenskap, wat verkies om anoniem te bly, maak kapsie daarteen dat die boeregemeenskap nie genoegsaam gewaarsku is nie.
"Dis nou al die tweede keer vanjaar, waarvan ons weet, wat leeus in ons omgewing beland. Ons werkers, met wie ons al 'n lang pad kom, loop saans na mekaar toe op buurplase. Wat van hulle veiligheid?"
Volgens Davison, is veiligheid Gondwana se eerste prioriteit.
"Dit is ons verantwoordelikheid en beslis nie ons bedoeling om enigiemand in gevaar te stel nie," het hy by navraag aan die Advertiser gesê. Davison meen dat hulle leeus nie sondermeer 'n gevaar vir mense inhou nie.
"Wanneer groot roofdiere soos leeus uit die reservaat ontsnap, beskou ons dit in 'n ernstige lig en is dit ons prioriteit om hulle veilig terug te besorg."
Gate in grensdraad
Davison sê dat hulle daagliks die leeus se bewegings monitor. By navraag oor hoe die leeus uit die reservaat gekom het, het hy gesê die aanvanklike ondersoek daarop dui dat daar gate in die grensdraad is wat deur kleiner wild soos ystervarke gegrawe kon word.
"Leeus is opportunistiese jagters en kom moontlik hierdeur gekruip met."
Die grensdraad is volgens hom egter geëlektrifiseerd, met 'n impuls wat elke paar sekondes daardeur hardloop. "Hierdie impuls is nie dodelik vir leeus nie, maar dien as afskrikmiddel."
Hy verduidelik verder dat, sou 'n dier egter deur 'n draad kruip en sy liggaam nie fisies aan beide punte van die draad raak nie, die elektriese impuls nie gelei word nie en dus geen effek sal hê nie.
Aanspreeklikheid
"Leeus wat ontsnap kan by enige reservaat gebeur, maar wanneer dit gebeur moet daar georganiseerde optrede in plek wees," meen grootkatkenner, Jurg Olsen van die Jukani-roofdierpark, wat verlede jaar vanuit Mosselbaai na The Craggs in Plettenbergbaai verhuis het.
"'n Mens skiet ook nie net goedsmoeds op 'n leeu nie. Hiervoor moet kundiges geraadpleeg word. 'n Gekweste leeu is die gevaarlikste ding ooit."
Jurg meen ook dat die leeus moontlik vanweë al die gebeure uiters verward kan wees, wat hulle gedrag verder kan beïnvloed en onvoorspelbaar kan maak.
By navraag oor die hantering van die huidige situasie, het CapeNature se Justin Lawrence gesê dat Gondwana oor 'n goedgekeurde bestuursplan beskik wat die bestuur van wild op die perseel aanspreek. Hierdie plan spesifiseer die aantal leeus wat aanghou mag word. Gondwana het volgens Lawrence 'n geldige permit vir die aanhou van leeus. Volgens Lawrence, spesifiseer die gebeurlikheidsplan dat CapeNature verwittig moet word van enige insident waartydens wild vanaf die perseel ontsnap. Hierin word die stappe wat deur Gondwana geneem moet word om die situasie onder beheer te bring, uiteengesit.
"CapeNature tree op in 'n raadgewende en ondersteunende hoedanigheid. Ons sal slegs ondersoek instel wanneer 'n probleemsituasie onder ons aandag gebring word. Hierdie insident word nog ondersoek, dus gaan ons nie verdere komentaar lewer nie," het Lawrence gesê.
Volgens Davison, sluit Gondwana se gebeurlikheidsplan deelname deur verskeie rolspelers in, alhoewel 'n presiese uiteensetting nie verskaf is nie.
"Ons het 'n taakspan in plek wat alles in hulle vermoë doen om dinge so gou doenlik na normaal te laat terugkeer."
LAAT NUUS
Een van die leeus wat ontsnap het is gistermiddag gevind.
Die leeuwyfie is na bewering doodgeskiet tydens 'n konfrontasie met boere in die omgewing.
Anton Meyer by 'n karkas van een van sy ver dragtige beeste. Hy vertel dat hy leeus in die kamp waar die diere loop aangetref het. Foto: Cornelle Carstens
Verskeie boere en personeel van 'n privaat wildreservaat het die leeus wat uit die reservaat ontsnap het probeer opspoor. Hulle is bygestaand deur Cobus Krous van Bergsig, wie se helikopter in die voorgrond sigbaar is. Foto: Verskaf
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'