Besigheid het vir ongeveer twee uur stilgestaan sodat die sentrum ontruim kon word en patrollie- en springstofhonde van die Langeberg K9-eenheid die sentrum vir enige verdagte toestelle kon deursoek.
Volgens die Hoofuitvoerende Beampte van Annuity Properties wat die sentrum besit, mnr Panico Theocharides, is 'n anonieme oproep om ongeveer 10:15 ontvang. Die Engelssprekende persoon het glo gesê dat daar 'n bom by die bankafdelings is en dat mense gaan seerkry wanneer dit sou afgaan. Volgens die woordvoerder van die Da Gamaskop SAPD, kapt Wollie Fourie, is polisiebeamptes toe na die toneel ontbied.
"Verkeer is afgekordon en die sentrum is ontruim. Geen verdagte toestelle is egter tydens die ondersoek gevind nie."
Mnr Theocharides kon nie die finansiële verlies vir die sentrum as gevolg van die ontruiming teen druktyd bevestig nie, maar het gesê sekuriteit by die sentrum bly bo-aan die sentrum se prioriteitslys. "Ons beskou die voorval in 'n ernstige lig en sal alles in ons vermoë doen om klante se veiligheid te verseker."
Die polisie ondersoek 'n saak van bomdreigement.
Sersant Thandisizwe Mapete met sy hond Grizlee en Kst Norman Dilingwa en Bully, van die Langeberg K9-eenheid, het die Langeberg Mall vir verdagte toestelle deursoek nadat die sentrum op Woensdag 9 Oktober 'n bomdreigement ontvang het. Foto: Louise Karsten
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'