Toe die finale verkiesingsresultate omstreeks 22:30 bekend gemaak is, was die vreugde in die DA geledere tasbaar. Die DA het met 1 035 stemme daarin geslaag om 64.45% van die stemme op hul te verenig, teenoor die onafhanklike kandidaat, mnr Nicky Lodewyks, se 27.46% en die ANC kandidaat, mnr Francois du Plessis, se 8.09%.
Die DA het ook daarin geslaag om die Tarka deel van die kiesafdeling oortuigend te wen.
DA kandidaat Dirk Kotzé het na afloop van die tussenverkiesing vir Wyk 8 nederig gesê dit was 'n totale spanpoging en dat die oorwinning tekenend is van die goeie naam en beeld van die DA, nie net nasionaal nie, maar ook in Mosselbaai.
"Ek dank die Here vir die positiewe gees waarin die verkiesing plaasgevind het, en vir die geleentheid wat my gegun word om daadwerklik vir my gemeenskap te werk," het hy bygevoeg, "Al die mense in die gemeenskap het saamgewerk om hierdie uitslag moontlik te maak, en ek is almal groot dank verskuldig."
Die tussenverkiesing is afgedwing nadat mnr Nicky Lodewyks sy DA lidmaatskap verloor het na 'n lang dissiplinêre proses. Mnr Lodewyks het vir net meer as 22 jaar Wyk 8 verteenwoordig en het in verskillende hoedanighede, en ook as onderburgemeester, in die Raad gedien.
Dirk Kotzé (39), die DA kandidaat, is 'n jong man wat onder andere as voorsitter van die Wykskomitee in Wyk 7 gedien het. Hy is deur die DA se kieskollege vir die kandidatuur van Wyk 8 benoem.
Verkiesing met hoop benader
Francois du Plessis is 'n boorling van Tarka en het die ANC se steun in die area gewen.
Vroeg Woensdagmiddag het al die kandidate steeds met groot hoop die verkiesing benader. Omstreeks 12:00 het sowat 19% van die 3 659 stemgeregtigdes hul stem uitgebring, aldus mnr Jaco Londt, die DA Streekbestuurder vir die Wes-Kaap Oosstreek.
Die Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, het na afloop van die verkiesing gesê sy hoop die onaangenaamheid van die afgelope paar maande is nou verby en dat 'n positiewe gees die toekoms sal kenmerk.
"Dirk bring as jong man nuwe energie in die Raad en die gemeenskap sal daarby baat. Die DA se span benader die toekoms positief en met 'n gesonde span." Sy het bygevoeg dat daar weer eensgesindheid en nuwe ywer van die DA koukus verwag kan word.
Beide mev Ferreira en mnr Kotzé het die ander twee kandidate vir die goeie stryd om die wyk bedank en hulle sterkte met hul politieke loopbane en toekoms toegewens.
Goeie belegging
Mnr Anton Dellemijn, verkiesingsbestuurder vir die DA, het bygevoeg dat die party baie opgewonde is oor hul nuwe raadslid en dat hulle positief is dat hulle 'n goeie belegging in Dirk Kotzé gemaak het.
Kort na die uitslae bekend gemaak is, het gelukwensinge van DA partyleiers ingestroom. Mnr Gerrit van Rensburg, die LUR van Landbou, het die twee stemlokale Woensdag besoek en dr Ivan Meyer, die Wes-Kaapse leier, het sy tevredenheid met die verkiesing en veral die uitslag te kenne gegee.
Die Speaker, mnr Kallie Smit, het Dirk Kotzé as 'n spanspeler beskryf en bygevoeg dat hy verwag die jong man sal met hope nuwe energie die DA Koukus versterk.
"As die verkiesing een punt bewys het, is dit dat daar in Mosselbaai nie plek vir 'n onafhanklike kandidaat is nie," het 'n omstander aan die Mossel Bay Advertiser gesê. 'n Ander persoon het bygevoeg dat veral die sakegemeenskap besondere verwagtinge van die nuwe raadslid koester.
Kommentaar
Mnr Lodewyks het na afloop van die verkiesing gesê hy het die uitkoms van die verkiesing verwag. "Ek het besef ek veg 'n opdraande stryd, aangesien ek teen my eie, deeglike opbou van die DA in Wyk 8 moes veg. Die bangmaak strategie het ook bygedra om kiesers te vervreem. Die klimaat vir onafhanklike kandidate is getoets, en die grondslag is oortuigend gelê. My deelname het bewys dat bykans 40% van die kiesers in die wyk ontevrede is met die politiek op plaaslike vlak en die bestuur van die dorp."
Hy het die ander twee kandidate bedank vir die goeie verkiesingstryd en bygevoeg dat hy steeds positief is.
By die onderskeie stempunte het op verkiesingsdag deurlopend 'n joviale gees geheers en verteenwoordigers van die verskillende partye en ondersteuners het gemoedelik met mekaar geskerts en oor en weer gesels.
DA ondersteuners het aan die Advertiser gesê hulle hoop dat hul kandidaat se jeug tot die party se voordeel sal strek en dat hulle daarna uitsien dat hy veral die besigheidsgemeenskap se belange in die Raad sal dien.

Francois du Plessis, die ANC kandidaat in Wyk 8 se tussenverkiesing (middel, agter), word hier deur ondersteuners geluk toegewens in die verkiesingstryd.Foto: Dave van der Merwe
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'