Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die tussenkoms van die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het Dinsdagaand verhoed dat protesoptrede deur inwoners van Aslapark handuit ruk.
Omstreeks 20:00 op Dinsdag, 26 Junie het ontevrede inwoners wat in Crotzstraat by die taxistaanplekke saamgedrom om te protesteer oor die misdadigheid wat toenemend daar voorkom en van daar geloods word op niksvermoedende inwoners. Daar is begin om versperrings in die paaie aan te bring en om buitebande op verskeie plekke in beide Crotzstraat en Adriaansweg brand te steek.
Na raming het sowat 60 tot 70 mense van die Aslapark-gemeenskap by die taxistaanplekke saamgedrom. Sommiges het beweer dat die gemeenskap voornemens was om 'n griefskrif aan die taxi-organisasies oorhandig. Ander persone het beweer dat hulle voornemens was om drie verdagtes aan 'n boendoehof te onderwerp. Die skare het oproerig geraak en die toegang na Aslapark versper deur buitebande te brand.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het egter persoonlik ingegryp en die skare te woord gestaan. Hy was bygestaan deur die raadslid belas met gemeenskapsveiligheid, raadslid Anton Dellemijn.
Advokaat Giliomee sê die gegriefde inwoners beweer dat die taxistaanplek gevandaliseer word en in 'n kwelpunt vir die gemeenskap ontwikkel het.
"Die gemeenskap beweer dat verkeerde elemente die taxistaanplek gevandaliseer het en dat deure en veiligheidstoerusting by die ablusiegeriewe afgebreek is. Opportuniste gebruik die staanplek om hul misdadigheid te beplan, leeglêers kom algemeen voor, dwelmmisbruik is volgens die gemeenskap 'n probleem en maak die fasiliteit gevolglik gevaarlik vir die algemene publiek. Boonop word beweer dat misdadigers hul buit hier verdeel.
"Ek was nie persoonlik daarvan bewus dat die staanplekke sodanig gevandaliseer is nie. Ek het die gemeenskap die onderneming gegee dat ek ondersoek sal instel en daarna aan hulle terugvoer sal gee," aldus adv Giliomee.
Talle van die dakplate van die staalstruktuur in die foto, wat die dak van die taxistaanplek moet vorm, is reeds afgesteel.
Die gemeenskap het vriendelik uit mekaar gegaan en die brandweerwaens en personeel van Mosselbaai se brand- en rampbestuursdienste het die brande geblus.
Binne sowat 'n halfuur was die pad weer vir verkeer oopgestel en het alles weer sy normale gang gegaan.
'n Hoëvlakbesoek deur die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, lede van die burgemeesterskomitee en munisipale direkteure het Woensdagoggend vroeg die taxistaanplek besoek en was geskok oor die vandalisering van die fasiliteite.
Daar bestaan feitlik geen ablusiefasiliteite meer nie, dakplate van die oorhoofse dak word gesteel en vullis maak die fasiliteite 'n gesondheidsrisiko.
Van die taxibestuurders met wie die Mossel Bay Advertiser vroeg Woensdagoggend gesels het, is dit eens dat die gemeenskap die taxistaanplek benut.
"Terwyl ons bedags die fasiliteite gebruik, is daar geen probleme nie. Maar saans gaan ons huis toe, dit is dan wanneer die verkeerde mense hier uithang."
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, (links) het 'n hoëvlakbesoek aan die taxistaanplekke vroeg Woensdagoggend gelei. Hy verduidelik aan die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, lede van die burgemeesterskomitee en munisipale direkteure die omvang van die vandalisme by die staanplekke. Foto: Nickey le Roux
Tydens Woensdagoggend se besoek het raadslid Venolia Fortuin die gemeenskap aangemoedig om 'n effektiewe buurtwag tot stand te bring wat sal kan help om die verkeerde elemente, skynbaar selfs kinders van ander woonbuurte, van die perseel af te kry. Intussen is verneem dat interessante ontwikkelingsvoorstelle op die tafel is vir die oop grond langs die taxistaanplekke wat sal meebring dat die fasiliteite optimaal benut sal word. Die dilemma is wie moet verhoed dat dit verder gevandaliseer word?
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'