MOSSELBAAI NUUS - Opposisiepartye op Mosselbaai het op Sondag, 6 Augustus, op aanvraag van die gemeenskap verskeie kwelpunte met inwoners in Mosselbaai bespreek.
Volgens Icosa-leier, Dawid Kamfer, is die samekoms op aandrang van die gemeenskap gereël en nie op inisiatief van die opposisiepartye nie.
Lede van die ACDP, Vryheidsfront Plus, Icosa, PA en ANC het inwoners om ongeveer 16:00 by die D'Almeida Supermark toegespreek.
Onderliggende kwessies wat bespreek is, sluit in die Mountain View behuisingsprojek op Mosselbaai, nuwe munisipale tariewe, gelyke geleenthede vir almal én korrupsie.
Kamfer het die samekoms as 'n geskiedkundige dag bestempel.
"Mense staan op en staan saam. Ons gaan Mosselbaai vorentoe vat tot voordeel van ons mense."
Faizel Porter van die PA het gesê die vergadering is deur die gemeenskap geroep en dat die verhoogde munisipale kragtariewe mense genoodsaak het om die vergadering by te woon.
Anco Barker van die Vryheidsfront+ sê daar was deursigtigheid by die vergadering.
"Almal het saamgekom in verskillende partye, maar as 'n gemeenskap."
Jeanette Gouws van die ACDP het inwoners toegespreek en gesê die rol van 'n raadslid is om minstens elke drie maande inwoners in te lig oor wat namens hulle onthalwe in die raad gedoen word. "Ons is nie hier om die Mosselbaai-munisipaliteit sleg te praat nie. Daar is 'n groot verskil tussen die regerende party en die munisipaliteit.
"Die regerende party gee instruksies aan die munisipaliteit en die munisipaliteit implimenteer dit."
Sy het vir inwoners verduidelik hoe 'n munisipale begroting werk en gesê: "'n Munisipale begroting werk so: die regerende party sit en lys wat hulle benodig. Dan sit hulle en hul maak die beursie vol om die begroting te bereik."
Gouws het gesê sy kry oproepe van inwoners wat nie die huidige las van die voorgenome begroting se koste sal kan bybring dra nie.
"Al die opposisiepartye in die munisipale raad het teen die huidige begroting gestem."
Volgens haar was dit te hoog. "Ek kry oproepe van mense op Hartenbos en selfs vanuit die munisipaliteit wat sê hulle kan nie die huidige tariewe bekostig nie. Niemand kan die huidige verhoogde tariewe bekostig nie. Dit is julle stem wat die regerende party sal laat luister."
Jeanette Gouws van die ACDP het inwoners toegespreek.
Inwoners van Mosselbaai luister na sprekers tydens die byeenkoms.
Faizel Porter van die PA.
Volgens Icosa-leier Dawid Kamfer is die samekoms op aandrang van die gemeenskap gereël. Foto's: Dexter Brinkhuis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’