MOSSELBAAI NUUS - Verskeie opposisiepartye het gister klagtes van bedrog en korrupsie teen die DA-koukus van die Mosselbaai-munisipaliteit gelê.
Die klagtes is by die Mosselbaai-polisiestasie aanhangig gemaak.
Dit volg ná opposisiepartye in die Mosselbaai munisipale raad reeds meer as ‘n maand gelede ‘n dringende ondersoek gevra het nadat die munisipale bestuurder, Colin Puren, op die maksimum salarisskaal aangestel is.
Puren is op die maksimum salarisskaal aangestel ondanks skrywes van Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, en dr Nkosazana Dlamini-Zuma, toe nog minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dat sy salaris op ‘n laer skaal moet wees.
Ofskoon opposisiepartye vir Puren se aanstelling gestem het, sê hulle, hul is nooit oor die skrywes van Bredell en Dlamini-Zuma ingelig nie.
Opposisiepartye wil weet hoekom die inhoud van die skrywes van hulle weerhou is en voer aan speaker, Venolia Fortuin, het in Junie 2022 die agenda afgeteken terwyl sy bewus was van die briewe.
Die DA-koukus hou egter vol dat burgemeester, Dirk Kotzé, volgens sy mandaat, wat eenparig deur die volle raad aan hom opgelê is, opgetree het. Die DA-koukus was glo van die inhoud van die briewe bewus, maar nie opposisiepartye nie.
Die burgemeester het op 9 Februarie 2022 die raad se eenparige mandaat ontvang om die aanstelling en salaris af te handel.
Opposisiepartye
Die Vryheidsfront Plus sê egter dat daarop gelet moet word dat die mandaat wat aan die burgemeester gegee is, volgens die party tans as verskoning gebruik word. "Die mandaat was ook om binne die wetgewing te onderhandel wat die burgemeester uitlaat. Hoe deursigtig was die burgemeester toe hy die raad weerhou het met die kritieke belangrike dokumente en die item op die agenda laat voorstel met misleidende inligting?"
ACDP raadslid Jeanette Gouws sê sy het die klagte namens haar party gelê omdat daar 'n konflik van inligting is aangaande Bredell se ondersoek en waar die ondersoek trek. "Bredell sê op 7 Julie hulle is in die proses om die voorval te ondersoek, tog sê burgemeester Kotzé hy het eers 'n kennisgewing van die ondersoek op 27 Julie ontvang."
“In die raadsvergadering van 27 Julie het die speaker bevestig dat geen kommunikasie deur die munisipaliteit oor 'n ondersoek na die aangeleentheid ontvang is nie. Die ACDP het toe onmiddellik 'n e-pos gestuur en amptelike bevestiging versoek of die munisipaliteit kennisgewing van 'n ondersoek ontvang het of nie. Geen antwoord is ontvang nie. Op Maandag 31 Julie stel die burgemeester 'n brief vry waarin beweer word dat die kantoor van Minister Bredell 'n brief op 27 Julie ontvang het. Kan ons dan aanneem dat minister Bredell se woordvoerder nie eerlik was toe hy aan die Mossel Bay Advertiser gesê het dat 'n ondersoek aan die gang is, maar sonder 'n uitkoms nie?”
Politieke DA Hoof vir Mosselbaai, Jaco Londt, sê egter die DA het deursigtig opgetree en in die beste belang van die dorp.
“In Februarie het al die politieke partye in die raad volle gedelegeerde magte aan die burgemeester gegee om die munisipale bestuurder aan te stel en oor sy salaris te onderhandel.”
Londt sê daar word ‘n vals narratief deur die opposisiepartye gedryf wat onnodige skade berokken aan die beeld van Mosselbaai “wat een van die bes-bestuurde munisipaliteite in die land is”.
Londt sê hy het gister parlementêre vrae ingedien om te bepaal wat die situasie elders in die land is.
“Ongeag sal die span hulle volle samewerking en steun gee om die saak af te handel.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’