MOSSELBAAI NUUS - Voorkomende optrede deur die hoof van munisipale wetstoepassing, mnr Henry Williamson en van sy personeel het bygedra dat 'n gewapende man in die Diasstrand-omgewing aangekeer is en die area verder beveilig is.
Op Maandagoggend, 6 Mei om 09:00 het munisipale personeel die betonwaarskuwingsteken teen misdadigheid op die strand op Diasstrand uit die sand gelig en herposisioneer sodat dit mooi sigbaar is.
Williamson en 'n wetstoepassingsbeampte, Warlyne Kiewiet het ondersteuning verleen om te verseker dat die waarskuwingsteken korrek geplaas word. Na die plasing het hulle teruggestap na die treinspoor se kant toe om te kyk of die waarskuwingsteken behoorlik sigbaar is. Dis toe dat Kiewiet 'n beweging in die gras opmerk.
Met nadere ondersoek is op 'n man afgekom wat in die gras wegkruip.
Die persoon het gemaak of hy van sy sinne beroof is en het gras geëet en gemaak of hy nie kan praat nie. Kiewiet 'n egter 'n mes by die man opgemerk en dit afgeneem. Nog 'n beampte, Gerber het intussen bygekom. Die verdagte man het klippe na die wetstoepassers begin gooi en het Gerber met takke probeer aanval.
Die polisie is gekontak, maar het nie dadelik 'n vangwa beskikbaar gehad nie. Adjudant-offisier van Heerden het wel op die oproep reageer. Toe ao Van Heerden die man aankeer, kon hy skielik praat. Hy hy hom boonop verset toe hy in die vangwa moes klim. 'n Bietjie pepersproei het gehelp, waarna die verdagte deur die polisie weggeneem is.
Kiewiet se oplettenheid het waarskynlik nog 'n moontlike slagoffer van misdadigheid in die omgewing gered.
Volgens Kiewiet het hy gesien dat die verdagte in die strand se rigting stap, maar kon hom nie heeltyd in die oog hou nie omdat die verdagte homself baie goed in die gras versteek het.
Kiewiet was egter op die uitkyk en is dankbaar dat die verdagte opgespoor is voordat nog 'n niksvermoedende persoon die slagoffer van misdaad geword het.
Williamson sê 'n besoeker aan die strand is voorgekeer en gevra of hy die waarskuwingsteken opgemerk het. Die besoeker het bevestigend geantwoord, maar gesê hy het nie besef dat dit werklik gevaarlik kan wees om alleen in die omgewing te loop nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'