TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Amira Willighagen, die Nederlandse sopraan wat die talentkompetisie Holland's Got Talent 2013 in die ouderdom van nege gewen het, het nie net 'n goue stem nie, maar ook 'n hart van goud.
Sy het met die aanbreek van die grendeltydperk 16 jaar oud geword. Amira, haar ma en broer woon tans by familie in Potchefstroom.
Deur haar eie liefdadigheidsorganisasie, Gelukskinders, gaan sy vanjaar haar 16de parkie in Suid-Afrika oprig, omdat sy voel elke kind in elke buurt, moet toegang kan hê tot 'n parkie – soos wat sy in Nederland het.
Haar ondersteuners het haar egter oorval met donasies tydens haar verjaardag, waarna sy besluit het om R80 000 aan die liefdadigheidsoganisasie Solidariteit Helpende Hand te skenk om vir behoeftige kinders nie net kos nie, maar ook lekkernye aan te koop.
"Ek het besluit om die geld vir Solidariteit Helpende Hand te skenk, want dit is 'n veilige en betroubare organisasie wat mense op verskillende maniere help en weet waar die nood is," sê Amira.
Buiten die nodige stapelvoedsel het sy versoek om ook warm sjokolade of Milo, malvalekkers, skyfies en aanmaakkoeldrank aan te koop. Helpende Hand kon met dié skenking onderskeidelik vier bederfdae vir behoeftige kinders hou.
Altesaam 400 behoeftige kinders het die afgelope twee weke hul lekkernye tydens pretdae ontvang. Plaaslik, het Laerskool Hartenbos ook 40 pakkies ontvang.
René Roux, Helpende Hand se adjunk uitvoerende hoof van kommunikasie en woordvoerder van die #StopHonger-voedingskema, het die skenking verwelkom en waardering daarvoor uitgespreek. "Amira is een van #StopHonger se ambassadeurs sedert dié voedingskema in 2018 van stapel gestuur is. Dit is vir ons besonders dat sy haar hand uitsteek tydens die pandemie deur nie net kinders te voed nie, maar ook te bederf."
Veertig pakkies is by Laerskool Hartenbos uitgedeel.
Laerskool Hartenbos-kinders bewys hulle dankbaarheid.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'