MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers sê hulle is gereed vir die totale isolasie wat President Cyril Ramaphosa Maandagaand in sy toespraak vir Suid-Afrika aangekondig het.
Dié isolasie wat van middernag gisteraand, Donderdag, 26 Maart af inwerking getree het, duur tot 16 April. Geen persone in die land mag gedurende hierdie tydperk in die strate wees nie.
Dit beteken in effek dat alle individue in hierdie isolasietydperk in hul huise sal moet bly. Slegs persone wat kos moet koop, mediese aandag nodig het of maatskaplike toelae moet kry, sal toegelaat word om hulle huise te verlaat.
President Ramaphosa sê die weermag is ontplooi, tesame met die polisie, om seker te maak mense bly by die voorwaardes. 'n Volledige lys van besighede wat mag oop wees is kort na dié aankondiging bekendgemaak. President Ramaphosa het gewaarsku dat die presidensie bewus is dat daar besighede is wat produkte teen buitensporige hoë pryse verkoop en dat dit geduld sal word nie.
Hy het verder 'n beroep gedoen op groot besighede om om te sien na hulle werkers. "Daar sal ondersteuning gebied word aan besighede wat swaarkry en wat nie werkers kan betaal nie. Verskeie ander ingrypings sal besighede en klein besighede ondersteun om die ekonomiese impak wat die virus op Suid-Afrika het, te buffer," het hy gesê.
'n Noodfonds is gestig om mense in nood te help. Die Ruperts en Oppenheimers het 'n biljoen rand geskenk aan die noodfonds, wat gebruik sal word om klein besighede by te staan.
Met die Mossel Bay Advertiser se besoek aan van die groter supermarkte in die dorp kon daar gesien word dat die inwoners voorsorg tref vir die isolasietydperk. Baie van hulle het eers Woensdag hul salarisse gekry en kon dus eers op dié dag die nodige aankope gaan doen.
Carol Lewis wat by 'n bloemiste op Mosselbaai werk sê sy is een van diegene wat nie in die isolasietydperk kan gaan werk nie. Nolinda Mdoda en Sarah Rhode het haar flink gehelp om Woensdag haar inkopies te doen. Foto: Jannie du Plessis
John Amon van Kaapstad sê hy werk vir 'n vismaatskappy in Mosselbaai en het Woensdag tyd afgekry om die nodige aankope te gaan doen. Foto: Jannie du Plessis
Yolandi en Jeff van der Merwe besit 'n besigheid op Mosselbaai maar gaan ook tydens die isolasie-tydperk nie mag gaan werk nie. Hulle het seker gemaak dat daar ietsie vir die keel is. Foto: Jannie du Plessis
Susan Gericke (regs) is 'n oud-Mosselbaaier wat ook Woensdag gou vinnig 'n paar aankope gemaak het. Saam met haar op die foto is 'n nuwe intrekker hier, maar sy wou nie haar naam genoem hê nie. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'