STILBAAI NUUS - Die liggaam van Stefan Marais, die leerder verbonde aan die Hoër Landboushool Oakdale, is sowat 12:30 vandag deur Kobus Crous vanuit sy helikopter in die Bitou-rivier opgespoor.
Crous, die eienaar van Mossel Bay Helicopters, is deur die seun se ouers gevra om met die soektog na Stefan te soek.
Weens guur weer kon die helikoptersoektog vanoggend eers begin.
"Stefan se pa, Pine, was saam met my in die helikopter toe ons sowat 300 van die monding iets in die rivier gewaar. By nadere ondersoek het dit geblyk dat dit die liggaam van jong Stefan was. Ek het die polisie-eenhede ontbied, wat Stefan se liggaam herwin het," aldus Crous.
Crous berig dat Stefan, 'n skrander leerder wat uitgeblink het in sport, veral in rugby en krieket, as deel van 'n skoolgroep die rivier besoek het toe hy vermis geraak het.
Benewens sy pa laat hy ook sy ma en 'n broer na.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'