MOSSELBAAI NUUS - 'n Oorsigkomitee van die Wes-Kaapse provinsiale parlement se veelparty-diensleweringskluster het verlede week die Suid-Kaap besoek en verskeie dorpe en munisipaliteite aangedoen vir terugvoer oor vordering en vooruitgang met regeringsbefondsde projekte.
In die Mosselbaai-omgewing het die parlementariërs onder meer besoek gebring aan die terrein waar die voorgenome streekstortingsterrein opgerig sal word, die opgraderingswerk aan die R102 en die Sonskynvallei-behuisingsprojek.
R102-opgradering
Werk aan hierdie projek vorder fluks en fase een, die opgradering van die gedeelte by Glentana is reeds afgehandel. Padwerke word ook beïnvloed deur die noodsaak vir verkeer om steeds die pad te gebruik terwyl opgraderingswerk gedoen word.
Die huidige opgraderings-werk het in die Riverside-gedeelte verskeie uitdagings teweeg gebring, met dreinering en vloedbeheer wat aandag verg en verbeterde kasduikers oor die sytak van die Klein-Brakrivier tot gevolg sal hê. Die pad self word ingespan vir effektiewe dreinering.
Die eenrigtingbrug sal steeds slegs vir eenrigtingverkeer aangewend word. Verkeerskalmeringsmaatreëls is daarom belangrik. Beter beligting word in die vooruitsig gestel en parkering vir busse word beplan. Volgens die kontrakteurs het die Riverside-gemeenskap na omvattende beraadslaging die ontwerp van die pad goedgekeur en aanvaar.
Die opgraderingswerk het die herseël van die pad meegebring, asook die verbetering van verkeersaansluitings en rygerief. Dit het grootskaalse strukturele werk geverg. Die pad sal origens met padskouers van 1.5m toegerus word.
Aan die seekant van die R102 moet paaie egter verlê word om verkeersvloei te verbeter en die aanbevole spoed te verbeter, en verkeersirkels word daarom onder meer aangebring.
Beter beligting word ook in sommige areas in die vooruitsig gestel. Op sommige trajekte sal spesiale bane aangebring word vir veral stadige verkeer en vir verbeterde verkeersvloei by afdraaie.
Die voorsitter van die Wes-Kaapse parlementêre komitee oor openbare werke en vervoer, LUR Nceba Hinana het gemeenskappe in veral die Groot-Brakrivier-omgewing gevra om geduldig te wees met die ontwrigting wat die opgraderingswerk te weeg bring.
"Die publiek en besigheidslui word gevra om die groter prentjie voorop te hou; die verbeterde verkeersvloei wat vir jare daarna sal volg wanneer die verkeersirkel en glipbane afgehandel is.
Dit mag op die korttermyn mense frustreer, maar op die langtermyn sal die opgradering verkeersvloei aansienlik verbeter."
'n Padsirkel word hier in die vooruitsig gestel vir verbeterde verkeersvloei na besighede soos die vulstasie en algemene handelaar. Tans is daar drie afritte kort na mekaar wat hoë verkeersvolumes dra en verkeersvloei belemmer.
Meneer Hinana het, hoewel die projek werk verskaf aan sowat 200 mense, sy kommer uitgespreek oor 'n skynbare gebrek aan 'n forum waar met belangegroepe en veral kleiner subkontrakteurs geskakel kan word.
"Ek wou graag 'n groter mate van vaardigheidsoor-drag aan plaaslike inwoners waargeneem het."
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, het bevestig dat die munisipale afdeling vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling nie by die projek betrek is nie, maar behulpsaam kan wees met die tot standkoming van 'n belangegroep vir nouer skakeling met die gemeenskap en kleiner kontrakteurs.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'