MOSSELBAAI NUUS - Bekende Mosselbaaier, Pieter Holtzhausen vier op Saterdag, 24 Desember, sy 90ste verjaarsdag saam met sy geliefdes.
Oom Pieter geniet nog elke dag die mooie Mosselbaai waarvan Die Punt een van sy gunstelinge is.
Hy ry graag vroegoggend om Die Punt en neem gewoonlik sy bordjie pap saam om sommer daar te eet terwyl hy vir die see kyk en dan ook 'n entjie gaan stap.
Vir talle inwoners van Mosselbaai en selfs vakansiegangers, is hy 'n geliefde oubekende wat altyd vriendelik groet en graag 'n geselsie maak.
Oom Pieter is op 24 Desember 1932 in Potchefstroom gebore, waar hy ook groot geword het. Hy studeer later onderwys in dieselfde dorp en op 6 Desember 1958 tree hy met Alice Pretorius in die huwelik.
Vier kinders is uit die huwelik gebore en soos die lewe soms loop, het hulle vroeg reeds langs die oop graffies van hulle twee seuntjies gestaan. Hy geniet sy twee dogters en spog graag met sy vier pragtige kleinkinders.
Sy ouers, Harry en Matty, het graag hier in Mosselbaai kom vakansie hou. Hy vertel hoe hy as sesjarige seuntjie een jaar moes help pak na 'n heerlike seevakansie en homself net nie sover kon kry om uit die see te kom nie. Hy het in- en uitgehardloop en elke keer sommer hardop gebid en gevra: "Here, soveel kere as wat ek in- en uithardloop, soveel kere wil ek terugkom see toe."
Oom Pieter het onder andere skool gehou by Stilfontein Hoër en tree in 1992 af na 40 jaar diens in die onderwys. Sy gebede as kind is beantwoord en hy en sy vrou kom tree af by die see in sy geliefde Mosselbaai. Hier begin hy die bekende Gewels Gastehuis, sy hart was om die mooi van Mosselbaai met ander te deel. Hierdie bekende historiese gebou en woning wat 'n bekende baken in Mosselbaai is, het vroeër aan sy pa en oudburgemeester, Harry Holtzhausen behoort.
Naas sy liefde vir sy Hemelse Vader en sy familie, is oom Pieter baie lief vir die natuur en die gesellige saamkuier met vriende. Min sal wegkom sonder om eers 'n koppie koffie te drink of 'n entjie saam met hom te gaan ry. Sy gunsteling tydverdryf is om rond te ry in die pragtige omgewing van die Tuinroete en wat hom die grootste genot bring, is om te sien hoe ander dit geniet. Sy roete strek tot sover as Herbertsdale aan die een kant en Sedgefield na die ander kant en moenie vir een oomblik dink hy gaan sy motorsleutels oorgee nie. Wat 'n voorreg om op 90-jarige ouderdom nog gesond genoeg te wees om 'n vol en onafhanklike lewe te lei en die mooi van die lewe en die omgewing te kan geniet.
Die familie se boodskap aan Oom Pieter is: "Pappa en Oupie, ons celebrate jou lewe elke dag. Ons celebrate wie jy is en wat jy so graag vir almal om jou doen. Ons waardeer jou grappies, jou ondeundheid, die poetse wat jy ander bak, maar bowenal … jou onbaatsugtige liefde. Dankie vir wat ons alles by Pappa kan leer, die wêreld is 'n beter plek met Pa daarin, ons lief jou oneindig baie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'