MOSSELBAAI NUUS - Ampie Reinecke het in November 2018 verbeeldings aangegryp toe hy na 51 jaar op amper 80 en baie siek aan kanker, valskerm gespring het.
Hiermee het hy op sy hoë ouderdom en na 'n jarelange stryd teen die groot K, met oorgawe 'n kampvegter vir kanker geword.
Ampie se fokus was om fondse in te samel ter ondersteuning van kinders wat deur kanker geaffekteer word, hetsy as pasiënte of omdat hulle ouers aan dié gevreesde siekte ly.
In Junie 2019, hou hy 'n fondsinsamelingsdag vir hierdie doel. Hierdie poging en sy blote onblusbare gees het hom 'n draai op die televisieprogram Kwêla laat maak wat self die sprong kom verfilm het. Hy is hierna benoem as 'n erelid van Mossel Bay Skydive.
Ampie se gesondheid het vanjaar agteruit begin gaan. Vroeër vanjaar het hy sy 81ste verjaarsdag in die Vidamed-daghospitaal gevier, waar personeel kom trakteer het.
Hy is op Vrydag, 1 Mei oorlede en laat sy geliefde vrou Dot agter. Die egpaar is jarelank al geliefde inwoners van Kenani.
Hulle sou in Julie vanjaar 60 jaar getroud gewees het. Ampie het destyds valskermspring uit liefde vir sy vrou opgeoffer.
"R.I.P. Oom Ampie Reinecke - nou kan jy lekker skydive op engelvlerke. Ons gaan Oom baie mis. Dankie vir die voetspore wat Oom agterlaat," het 'n jarelange vriend, raadslid Anton Dellemijn op Ampie se facebookblad geskryf.
Ampie Reinecke saam met valskermspring-instrukteur, Corné Moolman.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'