MOSSELBAAI NUUS -Lesers van die Mossel Bay Advertiser sal Ampie Reinecke sommer nog goed onthou.
Dié bejaarde het einde 2018 op die koerant se voorblad gepryk, toe hy op 79-jarige ouderdom met 'n lyf vol kanker ná 51 jaar vir die eerste keer weer valskerm gespring het.
Met dié, het oom Ampie sommer ook 'n kampvegter vir kankerbewusmaking geword, sedertdien het hy 'n fondsinameling vir die saak gehou én boonop 'n draai op die kassie gaan maak toe hy op die joernaalprogram, Kwêla verskyn het.
Verlede week het oom Ampie 81 jaar oud geword. Ten spyte van die feit dat hy nie tuis verjaar het nie, vertel sy eggenoot van 59 jaar, tannie Dot, dat dit sy beste verjaarsdag nóg was. Hy het jare gelede valskermspring opgeoffer uit liefde vir haar.
Oom Ampie was die afgelope paar maande 'n verskeie kere gehospitaliseer en so het hy verlede week sy verjaarsdag op 11 Februarie in die Vidamed-daghospitaal deurgebring.
"Oom Ampie is in die sub-akute-afdeling opgeneem. Hy is bekend vir sy valskermsprong ten bate van kinderkanker ten spyte van sy eie kankerstryd, daarom wou ons sy verjaarsdag 'n dag vol vreugdes en bederf hier by Vidamed maak."
Tannie Dot beaam dit. "Ons het omtrent gekuier. Die personeel het vir hom gesing en familielede en vriende het deur die loop van die dag kom kuier. Die hospitaal-personeel was net wonderlik goed vir ons."
Oom Ampie is tans tuis by Kenani, waar hy en tannie Dot bly. Tydens die Mossel Bay Advertiser se besoek, was oom Ampie se oë nog vol sprankel, al is hy tans voortdurend in pyn.
"Hy is 'n survivor. As hy kon, glo ek, sou hy graag nog 'n hoppie wou maak," sê tannie Dot.
Hierop het oom Ampie se oë sommer opnuut gevonkel. Met die groet het hy met sy kenmerkende oortuiging gesê hy is gereed vir dit wat op sy pad lê.
Ampie Reinecke omrimg deur personeel van Vidamed-daghospitaal. Regs van hom staan Arie Kadé, die bestuurder.
In Julie vanjaar sal oom Ampie en tannie Dot 60 jaar getroud wees.
'n Blye dag - Ampie Reinecke se eerste valskerm-sprong in 51 jaar. Hierdie foto is geneem in November 2018 saam met Corné Moolman wat saam met oom Ampie 'n tandemsprong gedoen het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'