Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Sedert Ampie Reinecke verlede jaar op 30 November knap voor sy 80ste verjaarsdag vir die eerste keer in 51 jaar valskerm gespring het, is hy 'n man op 'n missie. 'n Missie vir kankerbewusmaking.
"Ek spring vandag vir kanker, want as ek kan bewys dat ek as 'n ou krok van bykans 80 nog 'n hop kan doen, dan moet dit iets beteken vir kankerbewus-making," het oom Ampie, soos almal hom ken, verlede jaar voor sy sprong aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
En dit is presies wat hy gedoen het.
Tans, op 80 'n gevorderde kankerlyer, het hy 'n projek aangepak in samewerking met Kansa om fondse in te samel vir kinders wat direk of indirek deur kanker geraak word.
"Daar is soveel nood wanneer kinders deur kanker geaffekteer word, nie net as pasiënte nie, maar as ook as oorlewendes. Baie verloor hulle ouers op 'n jong ouderdom."
Vroeër jare het oom Ampie Suid-Afrika in die sestigerjare in valskermspring verteenwoordig, tot sy geliefde vrou van 58 jaar, Dot vir hom sê dat haar senuwees die springery nie kan hou nie, hy moes kies - valskermspring of sy.
Kyk 'n video hieronder.
Erelid
"Skydive Kiddie's Cancer Drive is die naam van ons projek. Ek spring op Saterdag, 29 Junie met Skydive Mossel Bay weer vanaf 'n hoogte van 3 000 meter oor Mosselbaai. Soos die vorige keer, is Corné Moolman my instrukteur," vertel oom Ampie.
Vandeesweek het oom Ampie 'n erelid van Mossel Bay Skydive geword toe hy Woensdag sy klubhemp in ontvangs geneem het.
"Dit is vir ons 'n groot voorreg om oom Ampie te verwelkom in die klub en om sy projek te ondersteun," sê Monica Biesenbach van Skydive Mossel Bay. Tydens sy besoek Woensdag, sou oom Ampie se vingerafdruk gelaai word om hom, soos enige volwaardige lid van die klub, vrye toegang tot die vliegveld te gee. "Ag man, van al die kankerbehandeling wou die skandeerder nie my vingerafdruk neem nie," het hy laggend verduidelik. Maar daar is nietemin 'n plan gemaak.
"Ons doen hiermee 'n beroep op almal wat hierdie storie lees om die woord te verspei en almal aan te spoor om die projek te ondersteun."
Enige belangstellendes kan die dag by Mossel Bay Skydive op die Mosselbaai-vliegveld in Aalwyndal bywoon.
Die bankbesonderhede vir finansiële bydraes kan inbetaal word by:
- Kankervereniging van Suid-Afrika NPO
- Absabank Rek # 9062416313
- Bankkode 632005
- Verwysing: KIDDIE'S CANCER DRIVE
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'