'n Vyftienjarige meisie van Mosselbaai wat onlangs in KwaNonqaba ontvoer en toe in 'n huis aangehou en verkrag is, kon daarin slaag om deur 'n venster van die woning te ontsnap en reguit na die KwaNonqaba-polisiestasie te hardloop vir hulp.
Die erg geskokte slagoffer het polisiebeamptes van die voorval verwittig.
Die omstandighede van die ontvoering word steeds ondersoek maar 'n voorlopige ondersoek dui daarop dat die slagoffer die betrokke dag in Matezastraat gestap het toe 'n plaaslike afleweringsvoertuig langs haar gestop het. 'n Vier-en-veertigjarige man het uit die voertuig geklim, die slagoffer gegryp en by die afleweringsvoertuig ingedwing. Hy het haar na wat verneem word na 'n huis in KwaNonqaba geneem en verkrag.
Na die verkragting het die verdagte die tiener in die woning toegesluit maar kon sy gelukkig daarin slaag om deur 'n venster te ontsnap en na die polisiestasie te hardloop.
Die polisie het onmiddellik met 'n ondersoek begin en die verdagte is kort daarna in hegtenis geneem.
Hy het op Maandag, 9 Desember in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op 'n aanklag van verkragting en ontvoering. Die saak is uitgestel na 20 Desember vir 'n borgaansoek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'