MOSSELBAAI NUUS - Voëlliefhebbers en inwoners van Tweekuilen, Diasstrand is woedend nadat 'n swaan die afgelope week vermoedelik doodgeskiet is.
Die organisasie, Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.) het die voorval bevestig.
"Ons weet van die swaan en was op Saterdag, 7 November op die toneel by Tweekuilen. Die voel het nog gelewe, maar is op die strand dood. Almal is erg onsteld oor hierdie onheilige aksie. Die munisipaliteit het die voël verwyder en dit was glo een van 'n paar in die Tweekuilen-omgewing."
Die swaan is glo na die voorval begrawe. Die Mossel Bay Advertiser kon nie bevestig of 'n nadoodse ondersoek op die voël gedoen is nie. Volgens S.M.A.R.T. het hulle nie verdere inligting nie, behalwe dat die swaan na bewering 'n koeëlwond het.
"Aanvanklik is bespiegel of dit dalk 'n pylwond was, maar dit is 'n skietwond. Daar was baie onsekerheid oor waar die swaan vandaan kom omdat S.M.A.R.T. en SAPREC (Seabird and Penguin Rehabilitation Centre) volgens streng permitregulasies werk. 'n Swaan is nie 'n mariene dier nie en tegnies gesproke nie wild nie, met ander woorde, aan wie behoort dit?
"Dit was vir ons ontsettend traumaties, nog meer so omdat swane maats kies en lewenslank bymekaar bly."
Die swane het vir 'n geruime tyd op die meer by Tweekuilen vertoef.
Doons Botha, oordbestuurder van Tweekuilen sê die swane het op 25 Oktober hul verskyning op die meer by Tweekuilen gemaak.
"Die swane was nog tot Vrydag, 6 November om ongeveer 14:00 op die meer en die vermoede is dat die swaan laat Vrydagaand of vroeg Saterdagoggend geskiet is. Die swaan is op die strand geskiet."
Mosselbaai se munisipale woordvoerder, Nickey le Roux sê hulle veroordeel enige wreedheid teenoor diere. "Hierdie skynbare sinnelose voorval is te meer ontstellend omdat die voëls vir soveel mense plesier verskaf het en tot die aantreklikheid van die riviermonding bygedra het.
"Enige persoon met inligting oor die voorval word aangemoedig om dit onmiddelik aan die naaste polisiestasie te rapporteer. Wreedheid teenoor diere is 'n strafbare oortreding."
Die gewonde swaan soos dit op die strand aangetref is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'