GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Edwardo Gertse (19), tans Groot-Brakrivier se jongste skeidsregter, mik om sy merk in rugby te maak.
Gertse, onderhoofseun van Groot-Brak Sekondêr, het voorheen met trots sy skool se rugbyspan verteenwoordig, maar het besluit om nou sy passie op ’n nuwe manier uit te leef.
“Rugby was nog altyd ’n groot deel van my lewe, en ek het besef dat ek steeds ’n verskil in die sport kan maak, al is dit nie noodwendig as ’n speler nie.
“Ek het besluit om ’n skeidsregter te word omdat ek ’n liefde vir die spel het en graag wil help om wedstryde eerlik, professioneel en met respek te bestuur. Ek geniet die verantwoordelikheid, die uitdagings en die geleentheid om voortdurend te leer en te verbeter,” sê hy.
Gertse is tans ’n vlak 1-skeidsregter en het gedurende Julie die geleentheid gehad om by beide klub- en skolerugbywedstryde betrokke te wees. Een daarvan was ’n wedstryd tussen Groot-Brak Sekondêr en ’n toerspan uit Engeland, vertel hy trots.
Met dié dat hy nog ’n matriekleerder is, is daar egter ander dinge wat saam met die rugby aandag moet kry. “Natuurlik bly my skoolwerk my eerste prioriteit, en ek werk hard om ’n goeie balans tussen my akademie, my verantwoordelikhede as onderhoofseun en my rol as skeidsregter te handhaaf.”
Edwardo Gertse tree as lynregter tydens 'n wedstryd op. Foto: Verskaf
Gertse reken sy verhaal wys dat daar baie maniere is om by iets waarvoor jy lief is betrokke te bly. En wie weet, dalk dien dit as inspirasie vir ander jongmense om hul drome na te jaag en elke geleentheid met albei hande aan te gryp, sê hy.
Rugby kom ook altyd met baie passievolle ondersteuners, en ma Elsie is getrou daar op die kantlyn van Edwardo se lewe. “My grootste ondersteuner is sonder twyfel my ma. Sy het my van die begin af aangemoedig, in my geglo en my deur elke uitdaging ondersteun.
“Ek is ook baie dankbaar vir die ondersteuning van my familie, my vriende, my skool, my afrigters en die rugbygemeenskap van Groot-Brak. Hulle aanmoediging motiveer my om harder te werk en my drome as skeidsregter na te jaag.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’